Darryn Fortuin het in die 77ste minuut ’n langafstand-strafdoel oorgeklits om Northam Platinum Rhinos ’n naelbyt-oorwinning van 22-20 oor die College Rovers in die 2026 Pick n Pay Goue Beker-eindstryd in Durban Sondagmiddag te besorg.
Fortuin se beslissende skop het aan die Rhinos hul eerste nasionale titel besorg, presies ’n dekade nadat hulle in 2016 hul toernooidebuut sonder ’n enkele oorwinning afgesluit het. Vir Rovers, wat met ’n indrukwekkende terugvegpoging ’n voorsprong van 20-19 geneem het met net drie minute oor, was dit hul vierde nederlaag in ’n eindstryd sedert die begin van die Goue Beker-era in 2013.
Albei spanne verdien egter erkenning vir een van die beste eindstryde in jare, wat voor ’n volgepakte skare gespeel is.
Die wedstryd was die kersie op die koek van ’n toernooi wat as ’n mylpaal in die geskiedenis van klubrugby in Suid-Afrika onthou sal word, nadat data getoon het dat deelname op klubvlak tussen 2024 en 2025 met bykans 14% toegeneem het.
Suid-Afrika spog nou met byna 120 000 geregistreerde klubspelers oor 15 provinsiale unies.
Die land se voorste uitklopkompetisie vir nie-universiteitsklubs, wat vir die tweede keer deur die nasionale kleinhandelgroep geborg is, is ook ondersteun deur Northam Platinum, wie se verbintenis tot gemeenskappe aansluit by die grondvlakgees van die Pick n Pay Goue Beker-reeks.
Die Rhinos se oorwinning het hulle ook ’n seldsame driekuns besorg nadat hulle vroeër die voorseisoense Sibanye-liga vir noordelike unies en die Goue Leeus se Grand Challenge gewen het.

Van Wellington tot Witrivier, Kathu tot Kariega en Saldanha tot Setaria sal die 2026-Goue Beker ook onthou word vir rugby van hoë gehalte. Twaalf van die 31 wedstryde is met sewe punte of minder beslis, waarvan vier met net een punt se verskil gewen is.
Groot skares het opgedaag, soos in Durban vir die eindstryd, terwyl die kompetisie ook ’n groeiende aanlyn aanhang geniet het.
Die gewilde Goue Beker-trofeetoere, wat verlede jaar begin het met besoeke aan Pick n Pay-winkels in Robertson, Kariega, Thabazimbi en Claremont, het in 2026 nuwe hoogtes bereik. Ondersteuners in onder meer Wellington, Witrivier, Brakpan, Pacaltsdorp, Saldanha en Durban kon foto’s saam met die ikoniese goue trofee neem.
