Geslagsgeweld: Planne, g’n uitvoering

Geslagsgeweld.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Die lyk van ’n vrou is onlangs in ’n dam in Soweto gevind. Ons sou waarskynlik nooit van haar gehoor het as die soeklig nie tans op die slagting van vroue aan die Oos-Rand was nie.

Elders in Suid-Afrika sal nóg vroue vandag sterf. As ons die vorige kwartaal se polisiesyfers as maatstaf gebruik, word gemiddeld meer as ses vroue per dag vermoor.

Byna 12 oorleef daagliks ’n poging tot moord. Ongeveer 100 verkragtings word elke dag by die polisie aangemeld.

Dis net dié waarvan ons weet.

Verskoon my dus as ek nie meer geduld oor het met die staat se mooipraatjies oor geslagsgeweld en vrouemoord (GBVF) nie.

Die interministeriële komitee oor GBVF het aangekondig wat nou gedoen gaan word.

’n “Omvattende noodstrategie” is goedgekeur. ’n Gespesialiseerde ondersoekspan is verskerp.

Polisiesigbaarheid is verhoog.

Gras sal gesny, bosse skoongemaak en onwettige stortingsterreine sal opgeruim word.

Alles mooi. Alles nodig. Maar toe ’n oorsese joernalis my die naweek vra of hierdie moorde uiteindelik ’n keerpunt kan wees, kon ek net sê: “Ek sal dit glo wanneer ek dit sien.”

Suid-Afrika het nooit ’n tekort aan planne nie – dis die implementering en die gebrek aan dringendheid wat die probleem is.

In 2018 het ons die eerste pre­sidensiële spitsberaad oor GBVF gehad. Onder die beloftes was ’n permanente koördinerende liggaam en ’n behoorlik begrote nasionale strategie. In 2019 het ’n ses maande lange noodreaksieplan gevolg. Dit het gekom en gegaan sonder dat die beloofde permanente raad bestaan het. In 2020 het ons ’n tienjaar- Nasionale Strategiese Plan gekry, wat deur ’n multisektorale raad gelei moet word.

Eers in 2024 is die wet wat dié raad moet skep, onderteken.

In 2025 is GBVF tot ’n nasionale ramp verklaar nadat vroue self daarvoor geveg het. Die permanente raad het uiteindelik eers in Augustus vanjaar begin funksioneer.

Dan is daar die geld. In verlede jaar se begroting is R20,9 miljoen vir 2026-’27 beskikbaar gestel om die staat se werk te ondersteun.

Vanjaar het die tesourie ’n skamele R43 miljoen bygevoeg om die nuwe Nasionale Raad oor Geslagsgeweld en Vrouemoord operasioneel te maak. Vergelyk dit met die R2,46 miljard wat vanjaar vir die polisie se VIP Protection Services (dus, onder meer politici se veiligheid) in 2026-’27 begroot is.

Suid-Afrika het ook ’n massiewe probleem met manlike geweld. Dit beteken nie alle mans is gewelddadig nie. Dit beteken dat geweld teen vroue grotendeels deur mans gepleeg word. Meer as een uit elke drie Suid-Afrikaanse vroue van 18 en ouer sê sy het reeds fisieke en/of seksuele geweld ervaar.

Ons kan vroue leer om nie alleen te draf nie. Ons kan bosse skoonmaak, noodknoppies installeer en polisiesigbaarheid verhoog. Dit spreek egter nie die kern van die ­­probleem aan nie. Voorkoming beteken ons moet ernstig vra hoe seuns in Suid-Afrika grootgemaak word, hoe mans oor vroue praat en hoe misoginie genormaliseer word.

Die staat kan ’n vrouemoordenaar vang, maar die moeiliker taak is om te help bou aan ’n samele­wing waarin minder mans haar in die eerste plek wil doodmaak.

Vroue het nie nóg ’n plan en waarskuwings nodig nie. Ons het ’n staat nodig wat optree asof ons lewe daarvan afhang.

Want dit doen!


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos