Die Valke se Suid-Afrikaanse Buro vir Dwelmtoepassing (SANEB) het ’n ondersoek van stapel gestuur nadat ’n geheime laboratorium in Rondebosch naby Kaapstad gevind en ’n 42-jarige man Vrydag 16 Oktober in hegtenis geneem is.
Die verdagte is aangekla van die oortreding van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe.
Lt.kol. Siyabulela Vukubi, provinsiale woordvoerder van die Valke, het gesê ’n intelligensiegedrewe operasie is deur die Valke in samewerking met die polisie se Vlieënde Eenheid uitgevoer. Dit het gelei tot die ontdekking van die geheime laboratorium in Rondebosch.
Vervaardigingstoerusting en sakkies Med-Lemon op beslag gelê
“’n Masjien wat vermoedelik gebruik is om Med-Lemon te vervaardig, asook bokse met sakkies Med-Lemon, is ontdek. Die waarde van die Med-Lemon is onbekend,” het Vukubi gesê.
Die verdagte sal na verwagting Maandag 19 Oktober in die landdroshof op Wynberg verskyn.
