Bemanning moes ontruim ná ‘onbekende projektiel’ vragskip tref

Safeen Principal. Foto: Marine Traffic
Safeen Principal. Foto: Marine Traffic

’n Vragskip is deur ’n “onbekende projektiel” getref aan die Golfkus van Saoedi-Arabië, wat die bemanning genoop het om die skip te ontruim, het ’n agentskap wat die veiligheid van seeverkeer monitor, Saterdag gesê.

Die skip is Vrydag sowat 68 seemyl van die kus by Jubail getref, volgens die Britse agentskap United Kingdom Maritime Trade Operations (UKMTO). Die agentskap het bygevoeg dat “alle bemanningslede na berig word veilig is”.

Skepe is die afgelope tyd gereeld deur Iran onder vuur geneem te midde van die oorlog in die Midde-Ooste. Iran het die Straat van Hormoes geblokkeer – die enigste uitroete vir olie- en gasuitvoer per see vanuit die Golfstreek.

Vanguard, ’n ander agentskap vir maritieme veiligheid, het die skip geïdentifiseer as die Safeen Principal, ’n ruolietenker wat onder die vlag van die Marshall-eilande vaar. Volgens die agentskap het die skip krag verloor en het ’n brand in die enjinkamer uitgebreek.

UKMTO het later gesê ’n ander skip in dieselfde gebied is ook Vrydag met ’n vuurpylaangedrewe granaat aangeval. Die bemanning is volgens die agentskap veilig.

Voor die oorlog op 28 Februarie met Amerikaanse en Israeliese aanvalle op Iran begin het, is sowat ’n vyfde van die wêreld se olie-uitvoer deur die Straat van Hormoes vervoer. Oliepryse het sedertdien die hoogte ingeskiet.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos