FW de Klerk-stigting: Van der Rheede bedank onmiddellik as uitvoerende direkteur

Christo van der Rheede.
Christo van der Rheede. Foto: Facebook.

Aanvanklik sou Christo van der Rheede eers 31 Desember vanjaar uit sy pos getree het. Dít ná hy op 19 Augustus vrywillig as uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting bedank het.

Die stigting het egter in ’n persverklaring bekend gemaak dat Van der Rheede amptelik uit sy pos bedank, en dat sy laaste werksdag nou op 30 September sal wees.

“Dit was ’n besondere voorreg om die FW de Klerk-stigting te lei, en ek is ongelooflik trots op die grondwetlike voorspraakwerk wat ons span gelewer het,” het Van der Rheede in die persverklaring gesê.

“Terwyl ek hierdie nuwe hoofstuk betree, sal my fokus verskuif na die benutting van dekades se ervaring oor verskeie sektore heen om tasbare ekonomiese bemagtiging te bevorder, ontwikkeling op gemeenskapsvlak te ondersteun en opkomende leiers te begelei. Ek verlaat die stigting met die wete dat dit goed geposisioneer is om sy impak voort te sit.”

Lees ook: FW de Klerk-stigting distansieer hom van Van der Rheede se uitsprake

Die stigting het vroeër hulself gedistansieer van Van der Rheede se uitsprake oor die Amerikaanse regering se standpunt oor Suid-Afrikaanse beleid gemaak is.

Die stigting se raad het toe gesê hy distansieer hom verder van enige verklaring wat namens die FW de Klerk-stigting gemaak is vanaf die datum waarop Van der Rheede die raad van sy voorneme om te bedank in kennis gestel het.

Die ontwikkeling volg nadat Van der Rheede hom onlangs in die openbaar oor die gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en die Verenigde State uitgelaat het.

Die stigting se direksie het nou amptelik Van der Rheede, wat van Januarie 2024 as uitvoerende direkteur dien, se bedanking aanvaar en hul waardering uitgespreek vir sy “toegewyde diens, energie en leierskap”.

Tog bly die uitsprake en debatte wat dit in die publiek genoop het, iets wat die stigting se aandag verg.

“Die direksie van die FW de Klerk-stigting het ook kennis geneem van onlangse kommentaar en menings deur verskeie rolspelers, belanghebbendes en individue oor die werk en fokus van die stigting,” lui die persverklaring.

“Die direksie bevestig dat die stigting op sy mandaat gefokus sal bly en nie as ’n platform of voertuig vir alternatiewe agendas of persoonlike doelwitte, wat nie met dié mandaat verband hou nie, gebruik sal word nie.

“Die direksie sal nie op sodanige opmerkings reageer nie en sal voortgaan met sy werk soos beplan binne die raamwerk van sy mandaat.

“Die stigting bly sensitief vir die voortgesette debat oor nalatenskap, legitimiteit en grondwetlike geheue in Suid-Afrika. Sy mandaat bly gegrond op sy stigtingsdokumente, die Grondwet, versoening en die verantwoordelike bewaring van ’n omstrede maar betekenisvolle demokratiese nalatenskap.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos