FW de Klerk-stigting distansieer hom van Van der Rheede se uitsprake

Christo van der Rheede Foto: Facebook
Christo van der Rheede Foto: Facebook

Die FW de Klerk-stigting het bevestig dat sy uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, op 19 Augustus 2026 vrywillig bedank het en op 31 Desember uit sy pos sal tree. Die stigting distansieer hom terselfdertyd van uitsprake wat Van der Rheede sedert sy bedanking oor die Amerikaanse regering se standpunt oor Suid-Afrikaanse beleid gemaak het.

Volgens die stigting het die raad Van der Rheede se bedanking aanvaar en het albei partye ooreengekom dat sy vertrek op 31 Desember plaasvind.

Die raad het intussen ’n komitee ingestel om uitvoerende besluite tussen raadsvergaderings te hanteer. Van der Rheede is deel van dié komitee. Die stigting sê alle bevoegdhede wat normaalweg by die uitvoerende direkteur berus, sal gedurende die oorgangstydperk saam met lede van dié komitee uitgeoefen word.

Die stigting sê Van der Rheede se verklarings oor die Amerikaanse regering se standpunt oor Suid-Afrikaanse beleid is nie gemagtig nie. Die raad sê hy distansieer hom verder van enige verklaring wat namens die FW de Klerk-stigting gemaak is vanaf die datum waarop Van der Rheede die raad van sy voorneme om te bedank in kennis gestel het.

Die ontwikkeling volg nadat Van der Rheede hom die afgelope week in die openbaar oor die gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en die Verenigde State uitgelaat het.

In ’n onderhoud met eNCA op 19 September het Van der Rheede die Amerikaanse regering se benadering as “etno-nasionalisties” beskryf. Hy het gesê dit is volgens hom problematies om sanksies of ander strafmaatreëls te gebruik teen mense wat grondhervorming of rasse-regstelling steun. Hy het ook gesê Suid-Afrikaners moet self probleme soos korrupsie, misdaad en swak dienslewering aanspreek en aangevoer dat die Amerikaanse benadering volgens hom ou rasseverdelings in Suid-Afrika kan verdiep.

Van der Rheede is in Januarie 2024 as uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting aangestel nadat hy voorheen uitvoerende hoof van Agri SA was. Die stigting se eie jaarverslag bevestig sy aanstelling en beskryf sy rol as een wat op Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie en die daaglikse uitwerking daarvan op Suid-Afrikaners fokus.

Die stigting se 2024/25-jaarverslag toon ook dat die organisasie onder Van der Rheede se leiding aktief aan openbare debat en beleidskwessies deelgeneem het, onder meer deur mediabetrokkenheid, voorspraak en veldtogte oor regeringsbeleid en grondwetlike waardes.

Hou Die Papier dop vir verdere inligting.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos