“Daar was nog nie ’n oomblik sedert daardie aand wat ek nie in pyn was nie.”
Só beskryf Christa Pike haar lewe nadat sy op 30 September op die teregstellingsbed beland het, maar op ’n buitengewone wyse die dood vrygespring het.
Pike het Vrydag, 30 Oktober, haar eerste openbare verklaring sedert die mislukte teregstelling deur haar regspan uitgereik.
“My liggaam is seer. My arms is seer. My hande is seer. My keel is seer. Ek sukkel steeds om te praat. En die pyn is nie net fisiek nie. Daar is pyn in my verstand en in my siel,” het sy gesê.
Volgens Pike het sy die teregstellingskamer by die Riverbend-gevangenis in Nashville binnegestap met die wete dat sy sou sterf.
“Ek het my vrede gemaak. Ek het die mense wat my liefhet en deur die jare by my gestaan het, bedank. Ek het nie aan ’n lewe ná daardie aand gedink nie.”
Maar die teregstelling het nie volgens plan verloop nie.
Die teregstellingspan het glo herhaaldelik gesukkel om ’n werkende binneaarse lyn in Pike se arms te plaas. Volgens haar prokureurs is twee dosisse van die dodelike middel pentobarbital toegedien, maar het die middel waarskynlik in die omliggende weefsel beland eerder as behoorlik in haar bloedstroom.
Pike het die prosedure oorleef en is in ’n kritieke toestand na ’n hospitaal geneem. Sy was dae lank op ’n ventilator voordat sy genoeg herstel het om op 10 Oktober na die Debra K. Johnson-gevangenis se mediese afdeling teruggeplaas te word.
In haar verklaring het sy haar uitgespreek oor die hantering van die teregstelling.
“Ek is diep seergemaak deur die onbevoegdheid wat soveel mense in hierdie vreeslike posisie geplaas het.”
Sy het ook erken dat sy steeds aan die familie van haar slagoffer, die 19-jarige Colleen Slemmer, dink.
“Ek dink steeds aan my slagoffer se familie en die vreeslike pyn en verlies wat hulle moes verduur.”
Pike is in 1996 ter dood veroordeel vir die marteling en moord op Slemmer, haar klasmaat by ’n beroepsopleidingsentrum in Knoxville, in 1995. Sy was destyds 18 jaar oud.
Pike het haar verklaring afgesluit met woorde wat die onsekerheid oor haar toekoms onderstreep:
“Ek weet nie hoekom ek daardie aand oorleef het nie. Ek weet nie wat volgende kom nie. Vir nou probeer ek genees, een dag op ’n slag.”
