Eers beserings, nou ’n klagte: Bulls-kaptein wag op dissiplinêre verhoor oor gevaarlike spel

Bulls-losvoorspeler Marcell Coetzee.
Bulls-losvoorspeler Marcell Coetzee. FOTO: Facebook.

Die Bulls kan vir ’n tydperk sonder hul kaptein, Marcell Coetzee, wees nadat hy ná hul oorwinning in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) teen Ulster Saterdag aangekla is.

Coetzee is vroeg in die tweede helfte op Loftus Versfeld met ’n geel kaart gestraf ná ’n gevaarlike skoonmaakaksie wat tot skouer-aan-kop-kontak met Ben Donnell gelei het.

Die kaart het ná ’n hersiening egter geel gebly.

Dinsdagaand het dit aan die lig gekom dat Coetzee voor ’n VRK-dissiplinêre paneel sal moet verskyn ná ’n klagte deur die wedstrydkommissaris.

“Die wedstrydkommissaris het ’n klagte ingedien oor ’n daad van vuilspel deur die speler (Marcell Coetzee, nr. 6) teen die opponerende speler Ben Donnell (nr. 4),” lui ’n verklaring van die VRK.

“Die speler is aangekla ingevolge Reël 9.20(a) en 9.20(b) rakende gevaarlike spel in ’n losskrum of dryfmaal. (a) ’n Speler mag nie met geweld ’n losskrum of dryfmaal binnestorm nie. Dit sluit enige kontak in sonder dat die speler hom aan ’n ander speler in die losskrum of dryfmaal bind. (b) ’n Speler mag nie ’n opponent bo die skouerlyn raak nie.

“Die speler sal per videoverbinding voor ’n dissiplinêre paneel verskyn. Die paneel bestaan uit Ben Rutherford (voorsitter, Ierland), Declan Goodwin en Chris Morgan (Wallis).”

Coetzee se saak sal Woensdag aangehoor word en met die Bulls se groeiende beseringslys sal die moontlikheid dat hul kaptein geskors kan word, ’n verdere terugslag vir die span wees.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos