Pastoor Caiphus Mkhawane (36) en Amanda Manono Mnguni (32) het hul borgtogaansoeke in die landdroshof op Atteridgeville teruggetrek, terwyl hul medebeskuldigde, Tsako Angel Makhubela (25), van voorneme is om met haar borgtogaansoek voort te gaan.
Volgens Lumka Mahanjana, streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se Gauteng-afdeling in Pretoria, staan al drie beskuldigdes tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg en bedrog.
“Daarbenewens staan Mkhawane en Makhubela ook tereg op aanklagte van mensehandel, moord met voorbedagte rade, verkragting, twee aanklagte van ontvoering en roof met verswarende omstandighede,” het sy gesê.
“Daar word beweer dat die beskuldigdes gedurende Augustus 2026 verskeie begrafnispolisse in die naam van die slagoffer, die ma van die oorlede baba, uitgeneem het.”
‘Bose geeste’
Mahanjana het gesê Mkhawane, Makhubela en die slagoffer het op 7 Oktober na die Hennopsrivier gereis onder die voorwendsel dat hulle godsdienstige rituele sou uitvoer om die slagoffer van bose geeste te bevry en haar kinders te beskerm.
“Met hul aankoms by ’n gebied naby die rivier het die twee die slagoffer beveel om haar klere uit te trek en haar hande vasgebind. Makhubela het haar glo met water uit ’n emmer gewas,” het sy gesê. “Daarna het die pastoor saam met die slagoffer na die rivier gegaan en die kind by Makhubela agtergelaat.”
Volgens Mahanjana het die pastoor die slagoffer glo weer gewas toe hulle by die rivier aankom, waarna hy haar na bewering verkrag het.
“Ná die verkragting het die pastoor die kind by sy vrou gaan haal, waarna hulle albei na die bosse gegaan het, waar hulle die kind vermoor het,” het sy gesê. “Die slagoffer kon glo ontsnap en het die voorval by konstruksiewerkers in die omgewing aangemeld. Hulle het gehelp om die polisie te ontbied.”/h3
Slagoffer
Sy het bygevoeg dat speurders van Erasmia se ondersoek gelei het tot Makhubela se inhegtenisneming op 7 Oktober, nadat die slagoffer haar geïdentifiseer het. Mnguni is later dieselfde dag in hegtenis geneem, terwyl Mkhawane op 10 Oktober aangekeer is.
“Met hul jongste hofverskyning het Mkhawane en Mnguni hul borgtogaansoeke teruggetrek. Makhubela het aangedui dat sy met hare wil voortgaan,” het Mahanjana gesê.
Die saak is tot 23 Oktober uitgestel sodat Makhubela haar regsverteenwoordiger oor haar borgtogaansoek kan raadpleeg.
