Een manier om daarna te kyk as politici kiesers op openbare vergaderings vloek, is om te vra dat diegene wat nog nooit gevloek het nie, hulle veroordeel.
Dit is ongelukkig nie so eenvoudig nie.
Dada Morero, die mislukte burgemeester van die Johannesburg-metro, en Pemmy Majodina, uit-haar-liga-minister van water en sanitasie, se kru vloektaal teenoor bepaalde mense dui op ’n neerhalende arrogansie.
Hulle en die ANC-regering, waarvan hulle deel is, misluk klaaglik.
Dit sluit in dat hulle vas glo hulle is verhewe bo die behoeftes van gewone mense en hoef of wil daarom nie aan hulle verantwoording doen nie.
Hulle glo hulle is geregtig op luukse oorsese reise en het die een of ander fobie om met blouligmotors rond te jaag. Dit is deel van ’n kultuur dat hulle iets geskuld word en op iets geregtig is; die “massas” nié.
En hulle weet dat hul lamsakkige president nie veel aan hul lot wil of kan doen nie.
Pres. Cyril Ramaphosa se eerste inhuldiging op Saterdag 25 Mei 2019 op Loftus Versfeld; die uwe het saam met ander joernaliste ’n pawiljoen met sekere junior politici en senior amptenare gedeel.
Op ’n kol het die son vir ’n kort rukkie ongemaklik op lede van die publiek op die oorkantse pawiljoen geskyn.
“Look how the sun is shining on the masses,” het een van die senior amptenare gemaak spottend laat hoor – tekenend van die harde sosialistiese tradisie van hoe gewone landsburgers deur die opgesmukte elite gesien word. Die gebrek aan empatie sou gou deur die “nuwe daeraad” (onthou enigiemand dit nog?) van Ramaphosa breek.
Al hoe swakker dienslewering en al hoe meer korrupsie en selfverryking sou ook volg – ironies juis in die ampstermyn van die president, wat die meeste lippediens aan die uitskakeling daarvan in die mees poëtiese taal by parlementsopeninge gelewer het. Veel meer as dit het nie gebeur nie.
Ramaphosa se ANC verdien geen verdere geleentheid of beurt om dinge te probeer regruk nie.
Die kamerade gaan ons net verder besteel. Suid-Afrikaanse kiesers kry ’n gulde geleentheid om die komende plaaslike verkiesing in ’n historiese geleentheid om te skep. Die ANC moet ’n finale nekslag toegedien word.
Daarvoor gaan almal na die stembus moet opruk. Aanduidings, wat sommige politieke werwers optel – dat mense in veral gegoede veiligheidsbuurte reken dit is nie nodig om te gaan stem nie – is kommerwekkend. Hulle ervaar nie kragonderbrekings, watertekorte of slaggate nie. Die honderde rande op ’n diensterekening raak hulle nie soveel nie.
Dit is ’n eenvoudige keuse – of aansukkel soos nou, of ’n verandering teweegbring. Die vloekende eselsdrywers verdien net een ding – om uitgestem te word. Hulle het hul kans gehad en hul prioriteite gewys. Daar is genoeg en selfs verdienstelike alternatiewe, wat noodwendig ’n verbetering sál wees.
Intussen klink die verskonings deur Morero en Majodina maar flou – veral as dit dan hul enigste boetedoening is. Dit moet verreken word dat die ANC hulle steeds wil voorhou as die soort kaliber wat hulle vir openbare ampte aanbied.
Oor na die kiesers.
