Ian Cameron, DA-LP en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het hom uitgespreek teen vals bewerings wat op sosiale media versprei word oor die wrede aanval op die Noordwes-boer Donovan Marx.
Cameron het in ’n verklaring gesê bewerings dat Marx tydens die aanval gekastreer is of dat die aanvallers dit probeer doen het, is heeltemal onwaar. Hy het mense versoek om nie dié bewerings verder te versprei nie.
“Daar is geen rede om vals bewerings by te voeg tot die ernstige geweld wat hy reeds moes deurmaak nie. Dit mislei die publiek en is ’n miskenning van die familie se privaatheid,” het Cameron gesê.
Marx (50) is Woensdagoggend, 28 Oktober, op sy plaas Syferfontein tussen Potchefstroom en Ventersdorp aangeval. Volgens inligting wat bekend gemaak is, het drie gewapende aanvallers eers ’n plaaswerker oorval en met kabelbinders vasgebind voordat hulle Marx aangeval het toe hy op die plaas aangekom het.
Marx is onder meer in die rug geskiet, in die bobeen gesteek en sy ore is afgesny. Een van sy niere is ook tydens die aanval beseer, maar kon tydens ’n operasie gered word.

Volgens ’n opdatering van die familie het Marx ’n operasie ondergaan en is hy tans stabiel in die kritieke sorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom. Hoewel sy pyn verbeter het, bly sy beserings ernstig.
Die familie het hul dank uitgespreek teenoor die gemeenskappe van Ventersdorp en Potchefstroom, asook nood- en mediese personeel, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en almal wat ondersteuning en gebede aangebied het.
“Ons grootste wens is dat Donovan nou die nodige rus, behandeling en geleentheid kry om te herstel,” lui die familie se boodskap.
Cameron het ook ’n beroep op die publiek gedoen om die familie se privaatheid te respekteer, veral ten opsigte van hospitaalbesoeke en navrae oor Marx se mediese toestand.
Hy het verder gevra dat enigeen met relevante inligting dit direk aan die SAPD of die familie se gemagtigde regsverteenwoordigers beskikbaar stel, eerder as om bespiegelings aanlyn te versprei of moontlike bewyse te beïnvloed.
“Moet asseblief nie spekulasie versprei of met moontlike bewyse inmeng nie,” het Cameron gesê.
Hy het sy meegevoel met Marx, sy vrou, Louise, hul familie en die plaaswerker wat ook tydens die aanval geteiken is, uitgespreek.
