Só lyk Feroz Khan nou

Feroz Khan, die voormalige adjunkhoof van misdaadintelligensie. Foto: Facebook / Ian Cameron

Feroz Khan,  die voormalige adjunkhoof van misdaadintelligensie is vandag in die Pretoriase landdroshof opgemerk ná maande waarin hy grootliks buite die openbare oog was.

Khan is saam met adv. Andrea Johnson, voormalige hoof van die direktoraat vir ondersoek na prioriteitsmisdaad (IDAC), in hegtenis geneem.

Die twee het kortliks in die Pretoriase landdroshof verskyn nadat hulle in verband met beweerde inmenging in ’n 2018-ondersoek na ’n aanrandingsvoorval in hegtenis geneem is.

Adv. Adrea Johnson. Foto: Facebook / Ian Cameron

Hulle is elk op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die staat het nie hul borgtogaansoeke teengestaan nie.

Johnson moet haar paspoort inhandig. Die saak is tot 2 Februarie 2027 uitgestel vir verdere ondersoek.

Die arrestasies hou verband met bewerings dat Johnson vertroulike inligting uit ’n polisiedossier oor ’n aanrandingsklag teen Khan met hom gedeel het voordat hy sy verklaring aan ondersoekbeamptes afgelê het.

Die beweerde dossierlek

Die oorspronklike saak dateer uit 2018, toe brig. Leonora Phetlhe na bewering deur Khan aangerand is.

Volgens getuienis voor die Madlanga-kommissie het Johnson, wat destyds by die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings in Pretoria werksaam was, glo toegang tot die ondersoekdossier gehad en inligting daaruit aan Khan beskikbaar gestel.

Die bewerings lui dat Khan sodoende toegang tot Phetlhe se weergawe van die gebeure kon kry voordat hy sy eie waarskuwingsverklaring afgelê het.

Die beweerde dossierlek en die verhouding tussen Johnson en Khan het van die belangrikste kwessies geword wat tydens die Madlanga-kommissie ondersoek is.

Feroz Khan en adv. Andrea Johnson in die Pretoriase landrosshof. Foto: Facebook / Ian Cameron

Ian Cameron: Niemand is bo die reg verhewe nie

Ian Cameron, DA-LP en hoof van die portefeuljekomitee oor polisie het die arrestasies verwelkom en beklemtoon dat voormalige senior posisies en invloedryke verbintenisse niemand teen aanspreeklikheid mag beskerm nie.

Khan het Cameron voorheen met regstappe gedreig.

Cameron se standpunt bly egter onveranderd.

“Rang, verbintenisse en voorige posisies mag nooit iemand teen ondersoek of aanspreeklikheid beskerm nie,” het hy gesê.

Hy het verder beklemtoon dat die saak onafhanklik voortgesit moet word, dat getuies beskerm moet word en dat die getuienis behoorlik in die hof getoets moet word.

“Albei beskuldigdes word steeds as onskuldig beskou totdat hulle skuldig bewys is.

“Suid-Afrikaners verdien ’n regverdige proses wat sonder vrees of begunstiging tot die einde toe gevolg word.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos