Drie pryse, een marimba en groot drome vir Kyrah

Van die Paarl tot die internasionale verhoog: Die US-student Kyrah Adams het drie groot toekennings by die Unisa-Suid-Afrikaanse Musiekbeurskompetisie ingepalm.

’n Jong musikant met groot drome en ’n besondere liefde vir die marimba het behoorlik haar merk gemaak. Kyrah Adams, ’n tweedejaar-musiekstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), is as die algehele wenner van die Unisa-Suid-Afrikaanse Musiekbeurskompetisie aangewys en het boonop twee verdere pryse ingepalm.

Die kompetisie is op 15 en 16 Oktober in die Dr Miriam Makeba-konsertsaal in Pretoria aangebied. Adams, oorspronklik van die Paarl, het die Unisa-Suid-Afrikaanse Musiekbeurs (eerste prys), die Unisa-prys vir Ontwikkelende Kunstenaars en die Unisa-Suid-Afrikaanse Komposisieprys gewen.

Dr Suzanne Martens, voorsitter van die US se Departement Musiek, beskryf die prestasie as uitsonderlik. “Om drie toekennings te wen, is ’n reuse- en seldsame prestasie,” sê sy.

Vir Adams was die aankondiging ’n verrassing. Hoewel sy reeds verskeie kompetisies agter die rug het, is pryse nie haar grootste dryfveer nie. Sy geniet dit veral om op te tree en musiek te maak. “Ek geniet dit om myself al hoe beter te leer ken, musiek te maak en gedurende elke sekonde van my optrede werklik teenwoordig te wees,” sê sy.

Haar wenprogram het onder meer Vivaldi se Concerto in C-majeur, Nils Rohwer se Orient-Express en twee dele uit Hendrik Hofmeyr se Concerto vir Marimba en Strykers ingesluit. Laasgenoemde werk het volgens Adams ’n groot invloed op haar musikale ontwikkeling gehad.

Haar liefde vir musiek het reeds as kind in die Paarl begin, nadat haar oupa vir haar haar eerste stel tromme gekoop het. Sy het later tien jaar lank onderrig by die Frank Pietersen-musieksentrum ontvang. Vandag is sy onder die leiding van Suzette Brits aan die US, wat haar beskryf as gedissiplineerd, gefokus en buitengewoon leergierig.

Brits onthou veral Adams se optrede tydens die Nasionale Jeugmusiekkompetisie in 2025 as ’n keerpunt. Die stilte in die gehoor ná haar uitvoering was vir haar ’n teken van die emosionele impak wat die jong musikant se spel gehad het.

Adams se drome strek egter veel verder as plaaslike kompetisies. Sy hoop om aan die Wêreld-marimbakompetisie in Stuttgart, Duitsland, deel te neem en wil uiteindelik help om internasionale geleenthede vir marimbaspelers ook in Suid-Afrika te skep.

’n Spesiale uitdaging lê reeds voor: Hofmeyr werk aan ’n tweede marimba-concerto wat spesiaal vir Adams gekomponeer word en na verwagting vroeg in 2027 voltooi sal wees.

Die pad na ’n internasionale loopbaan is egter nie sonder struikelblokke nie. Volgens Brits kan internasionale kompetisies duur wees, terwyl ’n professionele konsertmarimba byna R1 miljoen kan kos.

Dit keer Adams nie om groot te droom nie. Haar doel is om klassieke marimbamusiek in Suid-Afrika verder te bevorder en te bewys dat plaaslike musikante op internasionale vlak kan meeding.

“Ek glo die standaard van musikante in Suid-Afrika kan net so goed wees soos dié in die buiteland,” sê sy.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos