Verkiesing: Begryp die gevolge van wegbly

Verkiesing.
Foto ter illustrasie: Facebook/IECSouthAfrica.

Met die plaaslike verkiesing op 4 November om die draai, sal Suid-Afrikaners begin dink oor óf en vir wie hulle gaan stem. Indien hulle nie hernude energie uit partye se verkiesingsveldtogte gekry het nie, kan hulle nie noodwendig verkwalik word nie. Meestal is dit maar dieselfde ou karakters met dieselfde ou beloftes. Dit blyk ook dat heelwat kiesers glo dit is nie nodig om te gaan stem nie, “want my munisipale wykskandidaat gaan in elk geval wen”.

Voordat ’n besluit geneem word om weg te bly, moet die volle impak daarvan verstaan word. Mense vergeet skynbaar dat ’n proporsionele stembrief, met partye se name daarop, ook uitgedeel word. Boonop word die stem vir ’n wykskandidaat ook vir die proporsionele lys getel. Dit gaan uiteindelik ’n groot rol speel om te bepaal watter partye die meerderheid kry om in ’n bepaalde gebied te regeer.

Kiesers weet watter partye se politici hulle besteel en dienste in duie laat stort. Nog vyf jaar daarvan in die stuurkajuit van metro- en munisipale rade en die finale ineenstorting is noodwendig om die draai.

Opposisiepartye het nie ’n beherende aandeel in die regering van nasionale eenheid nie, maar kon byvoorbeeld ’n rampspoedige BTW-verhoging afweer. Hoe sterker hulle ingestem word, hoe swakker kan die destruktiewe invloed van partye soos die ANC, SAKP, EFF en MKP wees. ’n Wegblyery op stemdag kan dit ondermyn.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos