Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep.Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:
Beesmaalvleis, basielkruidpesto, geblikte/gekapte tamaties, mozzarella, hamburgerrolletjies
Met dié bestanddele kan jy die volgende maak:
Morsige frikkadel-rolletjies
Bestanddele:
- 400 g beesmaalvleis
- 8 opgehoopte eetlepels basielkruidpesto
- 1 blik gekapte tamaties
- 125 g mozzarella
- 4 groot, sagte hamburgerrolletjies
Metode:
- Meng die maalvleis met die helfte van die pesto en ’n bietjie sout en peper na smaak. Verdeel die vleis om 12 frikkadelle te vorm. Braai die vleisballetjies in ’n bietjie olyfolie in ’n groot kleefwerende pan tot bruin buite-om.
- Voeg die tamaties by en sowat 125 ml water. Laat opkook. Sprinkel die gerasperde mozzarella bo-oor, sit ’n deksel op die pan en laat 5 minute prut.
- Sny die broodjies oop en smeer die res van die pesto op die een helfte. Skep die frikkadelle-en-tamatiemengsel bo-op die brood (drie frikkadelle per broodjie) en sit die ander helfte van die broodjie bo-op. Sit dadelik voor.
Aangepas van ’n resep in Five Ingredients deur Jamie Oliver.
Indien jy ons QR-kode in die koerant skandeer het, is hier jou drie variasies op die resep:
Romerige maalvleis en pestopasta
Voeg by: 350 g gaar pasta van jou keuse, 2 knoffelhuisies (fyngekap), 1 groot ui (fyngekap)
Laat weg: Broodrolletjies
- Braai die ui en knoffel in ’n bietjie olyfolie tot glasig. Voeg die maalvleis by en braai tot bruin.
- Voeg die blik tamaties by en prut sowat 10 minute, roer gereeld.
- Roer 6 e pesto by en ’n skeut room of van die pastawater.
- Meng die vleismengsel met die gaar pasta en plaas in ’n oondvaste bak. Sprinkel 200 g gerasperde mozzarella bo-oor en rooster net totdat die kaas gesmelt is.
Italiaanse beesvleis en mozzarella rysgebak
Voeg by: 250 g rou rys, 2 knoffelhuisies (fyngekap), Italiaanse kruiegeurmiddel
Laat weg: Broodrolletjies
- Kook die rys tot gaar en hou eenkant.
- Verbruin die maalvleis saam met die knoffel en Italiaanse geurmiddel, roer dan die tamaties en 6 e pesto by.
- Meng die gaar maalvleis met die rys en skep in ’n oondvaste bak. Sprinkel 200 g gerasperde mozzarella bo-oor en bak dan by 190°C vir 15 minute tot borrelend en goudbruin.
Bros beesvleis, pesto en mozzarella quesadillas
Voeg by: 4 groot tortillas, 2 knoffelhuisies (fyngekap)
Laat weg: Broodrolletjies
- Braai die maalvleis saam met die knoffel tot gaar. Voeg die helfte van die tamaties by en prut tot dik.
- Roer 4 e pesto by. Skep die mengsel op een helfte van elke tortilla, sprinkel mozzarella oor en vou toe. Braai in ’n warm pan tot bros.
- Sit voor saam met die res van die tamaties wat jy kan geur na smaak en warm maak en as ’n doopsous gebruik. Die quesadillas is ook lekker saam met guacamole en suurroom.
