Die Springbok-flank Kwagga Smith sal sy Japannese klub, Shizuoka Blue Revs, verlaat nadat albei partye ooreengekom het om sy kontrak te beëindig.
Smith is tans buite aksie weens ’n ernstige kniebesering wat hy in Mei opgedoen het. Hy het gevolglik al Suid-Afrika se internasionale wedstryde vanjaar misgeloop.
Hy sal na verwagting eers volgende jaar weer speel.
Die Blue Revs het die nuus in ’n verklaring op hul webwerf bevestig en hulde gebring aan Smith se bydrae tot die klub oor die afgelope agt jaar.
“Sedert sy aankoms in 2018 was Kwagga Smith oor agt seisoene ’n sleutelspeler vir die span,” lui die verklaring.
“Gedurende die Top League-era is hy twee keer in die seisoen se beste XV ingesluit, en hy het dieselfde eerbewys drie keer in League One ontvang.
“Hy is ook as Speler van die Seisoen vir die 2022-’23-seisoen aangewys.
“Met 63 wedstryde vir Suid-Afrika agter sy naam het hy deurgaans die voorbeeld gestel en was hy ’n ware rolmodel.”
“Smith was ’n belangrike figuur in die klub se geskiedenis en het ’n beduidende bydrae tot die liga gelewer, sowel in naam as in daad.”
“Ons betuig ons diepste respek en dankbaarheid vir al sy prestasies en wens hom opreg verdere sukses in die toekoms toe.”
Smith was die afgelope paar jaar ’n belangrike deel van die Springbok-groep. Sy agtergrond in sewessrugby stel hom in staat om nie net as flank en agtsteman te speel nie, maar ook as plaasvervanger vir spelers in die agterlyn.
Met verskeie ervare Springbokke wat na Suid-Afrika terugkeer, insluitend Cheslin Kolbe ná sy tyd in Japan, sal dit interessant wees om te sien of Smith dieselfde skuif maak.
Bulle-afrigter Johan Ackermann stel glo belang daarin om die flank te kontrakteer.
