Die drie olifante, Lammie, Mopane en Ramadiba moet in die Johannesburgse dieretuin bly, het regter Noluntu Bam van die Pretoria-hooggeregshof vandag in haar uitspraak gesê.
Dié drie is die laaste olifante in ’n Suid-Afrikaanse dieretuin.
Die nie-regeringsorganisasies wat in Mei die aansoek gebring het dat die drie olifante vrygelaat en na ’n rehabilitasie-sentrum gestuur word, het hul “bittere teleurstelling” oor die uitspraak uitgespreek, maar gesê hulle gaan teen Bam se uitspraak appelleer. As die appèl misluk, sal hulle hul op die konstitusionele hof beroep.
Die EMS Stigting, Animal Law Reform South Africa en Khoi-hoofman Stephen Fritz het die hooggeregshof genader met ’n versoek dat die olifante in hul sorg vrygelaat moet word.
Die groepe het reeds ’n geskikte stuk grond en sou die diere rehabiliteer en in die natuur vrylaat. Bam het in haar uitspraak gesê sy kon geen fout vind met die aanhoudingspermitte vind wat die die Johannesburgse Metro vir die drie olifante uitgereik het nie. Sy het geen kostebevel gemaak nie.
