Die Lions-rugbyunie het bevestig dat hul slot Hyron Andrews Vrydag dood in sy hotel aangetref is, ’n dag voordat die span se Kampioenebeker-wedstryd teen La Rochelle sou plaasvind.
Daar word vermoed dat hy aan ’n hartstilstand gesterf het.
Andrews, wat luidens berigte in sy dertigs was, is volgens die Franse uitsaaier ICI La Rochelle bewusteloos in ’n stort by die Hôtel Atalante – Relais Thalasso op Île de Ré aangetref. Nooddienste het kort ná 10:20 Vrydagoggend opgedaag, maar kon hom nie bybring nie en hy is ná ’n vermoedelike hartstilstand op die toneel dood verklaar.
“Ons is verpletter deur Hyron se afsterwe. Hy was nie net ’n begaafde rugbyspeler nie, maar ook ’n geliefde lid van die Lions-familie nadat hy hom onlangs dié seisoen by ons aangesluit het,” het Rudolf Straeuli, die Leeus se uitvoerende hoof, in ’n persverklaring gesê.
“Namens ons voorsitter, mnr. Altmann Allers, die direksie en almal by die Lions, betuig ek ons innige meegevoel aan Maiglin, hul jong seuns Hendrix en Emerson, en die hele Andrews-familie. Ons staan hulle in hierdie moeilike tyd by en sal Hyron met groot toegeneentheid en respek onthou.”
Hoewel daar eers gerugte was dat die Lions se eerste Kampioenebeker-wedstryd moontlik uitgestel sou word, het die unie bevestig dat hulle “ter ere van Hyron” môreaand om 18:30 (SA tyd) teen La Rochelle sal speel.
Verdere inligting rondom ’n huldeblyk vir Andrews sal op ’n latere stadium bevestig word.
