Stormers-lostrio dalk VRK se beste?

Springbok-flank Paul de Villiers.
Springbok-flank Paul de Villiers. Foto: Facebook.

Die Stormers se Hacjivah Dayimani, Siya Kolisi, Paul de Villiers en Evan Roos kan moontlik die beste lostrio in vanjaar se Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) wees.

Dit is die mening van Jean de Villiers, ’n voormalige Springbok-kaptein, wat reken sy ou span kan vanjaar weer goed vaar in dié kompetisie.

“Die Stormers beskik vanjaar oor ’n groep wat vir seker welslae kan behaal, maar ’n lang seisoen lê voor en hulle sal deurlopend met goeie vertonings vorendag moet kom.

“Hulle sal soos teen die Sharks in meer van hul wedstryde druk van die begin af moet toepas – mét genoeg en goeie balbesit – en sal gebiedsvoordeel moet oorheers.”

Nick Mallett (regs) en Jean de Villiers.
Nick Mallett (regs) en Jean de Villiers. Foto: Gallo Images.

Volgens De Villiers het die Kapenaars reeds gewys hulle kan in die skrums baie sterk wees en sal dit as een van hul groot wapens moet gebruik.

Die voormalige Bok-kaptein sê party individue skitter en is indrukwekkend. “Damian Willemse se waarde onder die hoë bal en sy X-faktor is uitstaande. Wilco Louw het net weer opnuut gewys dat hy een van die beste stutte in die wêreld is.

“Dayimani, Kolisi, De ­Villiers en Roos kan op die beste tye ­uiters gevaarlik en doeltreffend wees. Min spanne gaan by dié lostrio kan byhou.”

Die Sharks het met tye goed vertoon, maar soms op die aanval eendimensioneel voorgekom. “Die Sharks is goed in die 22-m-gebied van hul teenstan­ders, maar tussen die twee kwartgebiede gebeur nie veel nie. Hulle beskik ook oor ’n fantastiese agterlyn, maar ge­bruik dit nie heeltemal tot hul volle voordeel nie,” sê De Villiers.

Die Sharks se voorspelers is as ’n eenheid nog nie waar hulle moet wees nie en met spelers soos Ox Nché, Thomas du Toit en Vincent Koch beskik hulle oor die talent, maar het aspekte waaraan hulle sal moet werk, aldus De Villiers.

Springbok Ox Nche.
Springbok Ox Nche.

Nog ’n voormalige Springbok-­kaptein en haker, Adriaan Strauss, is positief oor die begin van die Bulls in vanjaar se kompetisie.

“Die Bulls het gewys hulle kan – veral met hul Springbokke nou terug – weer ’n krag wees. Hul fisieke spel, sterk voorspelers en vermoë om geleenthede in punte om te skep, staan uit.

“Hulle sal daardie klas spel en standard week ná week moet handhaaf – veral oorsee. Dit is waar goeie spelbestuur en dissipline deurslaggewend gaan wees.”

Volgens Strauss was Came­ron Hanekom onlangs weer een van die Bulls se ­uitstaande spelers.

Die Bulls-losvoorspeler Cameron Hanekom is een van talle Springbokke wat die Bulls kan help om dié span op die wenpad te hou. Foto: Alche Greeff, Gallo Images.
Die Bulls-losvoorspeler Cameron Hanekom is een van talle Springbokke wat die Bulls kan help om dié span op die wenpad te hou. Foto: Alche Greeff, Gallo Images.

Wat die Lions betref, is Strauss ook opgewonde oor wat hy van dié span gesien het en beklemtoon die ­Johannersburgers se positiewe en aanvallende spel en nuwelinge wat ’n indruk maak.

“Die nederlaag teen die Bulls was nou wel ’n terugslag, maar hulle het teen Leinster en Ospreys gewys waartoe hulle in staat is. Hulle sal egter moet verbeter en meer bestendig in die fisieke stryd moet wees. Hier sal Francke Horn deurlopend ’n groot rol moet speel. Die diepte van die span gaan oor die lang seisoen getoets word, maar ek sal hulle nie onderskat nie.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos