Bulls teen Lions: Dís Die Papier se speler van die wedstryd

Bulls-vleuel Sebastian de Klerk.
Bulls-vleuel Sebastian de Klerk. Foto: Facebook/BullsOfficial.

Kyk ’n mens fyn sou dit voorkom of daar selfs meer rooi as blou in die halfvol Loftus Versfeld in Pretoria te sien is. ’n Begeesterde Lions-span wat aanvanklik as gunstelinge op die veld gedraf het, het egter weereens iets besef wat soveel spanne al op die harde manier moes leer: Dis moeilik om die Bulls op Loftus te klop.

Hoewel Cameron Hanekom die amptelik speler van die wedstryd was, het talle spelers ’n kardinale rol gespeel in die Bulls se 57-15-sege.

Ons speler van die wedstryd is Sebastian de Klerk.

De Klerk eers in die doodsnikke van die wedstryd ’n drie gedruk, maar was deur die hele wedstryd baie doenig in die agterlyn. As spoedvraat het hy gereeld gapings gesoek én fisiek oor die voordeellyn gebars.

Dit was einste hy wat die Lions se verdediging getoets het voordat Bulls-senter Harold Vorster ’n briljante drie gedruk het. Hy was ook die speler wat van ’n lynstaalbeweging ’n gaping benut het om Cameron Hanekom oor te stuur vir die Bulls se derde drie.

Die lys is lank . . .

Ja, hy sal die hoë duikslag op Lions-senter Ethan Adams wil vergeet. Maar dit is een van die min foute wat hy gemaak het.

In Maart vanjaar het hy ’n been in sy voet gebreek wat hom vir ’n hele ruk op die kantlyn gehou het. Hy is egter nou terug, en lyk net so gevaarlik op die aanval soos voor die besering.

Welkom terug, Seb.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos