Die Nasionale Loterykommissie (NLC) belê meer as R65 miljoen in die 2027-krieketwêreldbeker vir mans, met geld vir stadionopgraderings in ses gasheerprovinsies en krieketontwikkelingsprojekte landwyd.
Ricardo Mackenzie, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het die belegging verwelkom. Die geld is Woensdag by Newlands in Kaapstad aan Krieket Suid-Afrika (KSA) oorhandig.
Die NLC se belegging volg op R15 miljoen wat die Wes-Kaapse regering vroeër vanjaar in krieketinfrastruktuur belê het. Die Wes-Kaapse Krieketvereniging en Krieket Boland het elk R7,5 miljoen ontvang. Hulle is die beheerliggame vir die provinsie se twee wêreldbekervenues, Newlands en Bolandpark in die Paarl.
“Die wêreldbeker sal sewe weke duur, maar die nalatenskap daarvan moet ’n geslag lank hou,” het Mackenzie gesê.
Hy sê die provinsiale regering se belegging is daarop gemik om infrastruktuur te verbeter wat ook ná die toernooi jong spelers en gemeenskappe sal bevoordeel.
Die NLC se geld sal stadionopgraderings in ses gasheerprovinsies ondersteun, asook krieketontwikkelings- en nalatenskapprojekte in al nege provinsies. Die projekte sal op jong spelers, gemeenskapsklubs, afrigters en KSA se netwerk van 70 krieketspilpunte fokus.
Tjaart van der Walt, finansiële hoof van KSA, sê die belegging sal help om die toernooi se sukses te verseker en terselfdertyd ’n blywende voordeel vir spelers, provinsies en ondersteuners inhou.
Die wêreldbeker vind van 2 Oktober tot 21 November 2027 plaas. Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië bied die toernooi gesamentlik aan. Newlands sal die openingswedstryd en die eerste halfeindstryd aanbied.
Mackenzie het gesê die wêreldbeker kan jongmense aan nuwe geleenthede blootstel en hul belangstelling in krieket aanwakker. Hy het vertel hoe hy as jong seun per trein na Newlands gereis het om tydens die 1995-rugbywêreldbeker na die Springbokke se wedstryd teen Roemenië te gaan kyk.
“Ek is nie hier omdat ek beter as enigiemand anders is nie. Ek het toegang tot geleenthede gehad, en ek wil hê meer jongmense moet hierdie spel ontdek en liefkry,” het hy gesê.
Die departement ondersoek ook hoe die Wes-Kaap se 373 openbare biblioteke as toegangspunte gebruik kan word waar jongmense oor krieket kan lees en meer daaroor kan leer.
Die oorhandiging was deel van die NLC se werksbesoek aan die Wes-Kaap van 5 tot 8 Oktober. Die besoek, wat deur Mackenzie en die departement van kultuursake en sport aangebied is, het gefokus op geleenthede om belegging en samewerking in sport, kuns en kultuur in die provinsie te versterk.
