VRK: Só lyk die Bulls- en Lions-spanne vir die Jukskei-derby

Bulls-speler Canan Moodie.
Bulls-speler Canan Moodie. Foto: Facebook/BullsOfficial.

Verskeie Springbokke keer terug na die Bulls en Lions vir Saterdag se Jukskei-derby in Pretoria.

Canan Moodie, Cameron Hanekom, Johan Grobbelaar en Gerhard Steenekamp is almal in die Bulls se beginspan, terwyl nóg Springbok-versterkings in Marco van Staden, Cobus Wiese, Elrigh Louw en Handré Pollard op die reserwebank hul opwagting maak.

Wiese bereik ook ’n mylpaal en sal sy 50ste verskyning vir die franchise maak.

Willie le Roux begin op heelagter, met Stedman Gans en Harold Vorster as die senterpaar, terwyl Curwin Bosch op losskakel uitdraf en Paul de Wet terugkeer as skrumskakel.

JF van Heerden begin op slot ná twee weke op die bank en vorm ’n kombinasie met Ruan Vermaak, terwyl Jeandré Rudolph na flank skuif om plek vir Hanekom te maak.

Hanro Liebenberg voltooi die agttal en sal die span aanvoer.

Bulls.

Daarteenoor is die Lions, wat beide hul wedstryde gewen het, die gunstelinge om die Bulls op Loftus te gaan klop.

Lions-hoofafrigter Ivan van Rooyen het erken dat die Bulls, ondanks sy span se oorwinning oor die Ospreys verlede naweek, ’n heel ander uitdaging op Loftus sal bied, een waarvoor hulle gereed moet wees.

“Akkuraatheid gaan van kardinale belang wees in die wedstryd teen die Bulle,” het hy gewaarsku.

“Dit is ’n tipiese derby, so die fokus gaan sterk op die vaste fasette en fisieke spel wees. Die Bulls het in hul onlangse vertonings gewys hulle wil ’n bietjie meer met die bal speel, wat hulle nog gevaarliker maak.”

Lions.

Van Rooyen se hulpafrigter en skrumafrigter, Julian Redelinghuys, het saamgestem en gesê Suid-Afrikaanse derby’s word dikwels deur oorheersing in die vaste fasette beslis.

“Dit is twee trotse pakke voorspelers,” het die voormalige Springbok-stut gesê. “Wanneer jy teen ’n Suid-Afrikaanse span speel, kan jy seker wees die intensiteit gaan hoër wees, veral in die vaste fasette.”

Wat die span betref, pak die Lions Saterdag uit met ’n nuwe slotkombinasie van Dylan Sjoblom en Hyron Andrews. Daar is ook drie veranderinge onder die agterspelers, met die Springbokke Morné van den Berg op skrumskakel en Quan Horn op heelagter in die beginspan. Richard Kriel skuif na vleuel om die beseerde Erich Cronje te vervang, terwyl Ethan Adams saam met Henco van Wyk in die middelveld speel. Van Wyk keer terug nadat hy verlede week as voorsorgmaatreël weens ’n kopbesering uitgelaat is.

Die bank kan later ekstra krag en spoed bring met Batho Hlekani en Siba Mahashe, terwyl Nico Steyn dekking as skakelspeler verskaf.

  • Afskop is Saterdag om 13:30.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos