Ian Cameron, DA-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, sê geld wat tans aan Senzo Mchunu, voormalige minister van polisie betaal word terwyl hy met verlof is, kon eerder in polisiekapasiteit belê word.
Hy het veral gewys op die druk wat op eenhede is wat verkragting, kindermishandeling en ander geweldsmisdade ondersoek. “Spesiale verlof was nooit bedoel om in ’n onbepaalde vakansiereëling te ontaard nie,” het hy gesê.
Firoz Cachalia, Mchunu se waarnemende opvolger, verdien meer as R3 miljoen per jaar om Mchunu se pos te vul. Cameron se groter kritiek fokus egter op die gebrek aan gevolgtrekking en aanspreeklikheid. Volgens hom kan aanspreeklikheid nie uitgestel word totdat ’n skandaal openbaar word nie, maar moet dit deel wees van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se daaglikse bestuur en besluitneming.
Cameron sê ook die R640 miljoen-besteding waarvoor lt.genl. Molefe Fani, SAPD se afdelingkommissaris vir voorsieningskettingbestuur, is in die spervuur was ir onreëlmatige uitgawes in die 2024/25-boekjaar, dui op ernstige moontlike tekortkominge binne die SAPD se verkrygingstelsel en die behoefte aan sterker aanspreeklikheid.
“Elke rand wat weens korrupsie verlore gaan, is ’n rand wat nie gebruik kan word om bykomende speurders aan te stel nie,” het Cameron gesê. Hy het verder gesê dat kriminele ondersoeke oorweeg moet word indien die getuienis daarop dui dat ’n misdaadsindikaat daarin geslaag het om die SAPD se verkrygingstelsels te ondermyn. Cameron se komitee het reeds gewaarsku dat sommige senior beamptes blykbaar beskerming geniet.
- Lees die volledige artikel oor dié kwessie in Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur On the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op novanews.co.za/diepapier of by Magzter.
