‘Goudstad se metroraad pleeg self die misdaad’

Johannesburg. Foto: Emmanuel Croset / AFP
Johannesburg. Foto: Emmanuel Croset / AFP

Johannesburg se metroraad is ’n misdaadinstelling. Dié skokbevinding word gemaak in ’n verslag “Joburglary: Assessing the Crime-Council Ecosystem in the City of Johannesburg”.

Die verslag is opgestel deur die Global Initiative Against Transnational Organised Crime (GI-TOC) op versoek van die Centre for Development and Enterprise (CDE).

Volgens die CDE skilder die verslag ’n “diep ontstellende prentjie”. Dit wys dat die stad nie net onder swak admini­strasie, swak instandhouding en gewone munisipale onbe­voegdheid ly nie. “Die metroraad het ontwikkel in ’n kragtige misdaad-ekostelsel. Daarin oorvleuel politieke, sake- en mis­dadige belange deur voordeel te trek uit die disfunksionaliteit van die plaaslike regering.”

Munisipale begrotings, verkrygingstelsels, aanstellings en dienslewering skep ideale omstandighede vir grootskaalse korrupsie. Om dit uit te buit, word politiek gemanipuleerde komitees en senior aanstellings gebruik om tenderprosesse te verongeluk.

In ander gevalle werk korrupte amptenare saam met buite-misdadigers wat betrokke is by ­infrastruktuurdiefstal, sabotasie en die onwettige besetting van geboue – dit terwyl sommige amptenare hulself skuldig maak aan direkte afpersing.

Die potensiële wins uit korrupte aktiwiteite skep aansporings wat direk tot institusionele en stedelike agteruitgang bydra. Namate infra­struktuur verval, word noodverkryging en swak wetstoepassing bykomende geleent­hede vir winsbejag.

Misdaad-ekostelsel se drie vlakke

Hierdie misdaad-ekostelsel bestaan uit drie oorvleuelende vlakke:

  • Op die boonste vlak: Politieke vangnette vir munisipale entiteite en hul verkrygingsprosesse. Politieke invloed by opdragte aan senior amptenare vertroebel die nodige skeidslyn tussen politieke oorsig en opera­sionele besluitneming. Dit skep ruimte vir tenders om gemanipuleer, oordryf of rigtinggewend aan bevriende sakebelange toegeken te word.
  • Op die tweede vlak: Misdaadnetwerke waarby amptenare, kontrakteurs en misdadigers betrokke is en wat rondom dienste soos elektrisiteit, water en eiendom bedryf word.
  • Op die derde vlak: Direkte vorms van misdadigheid, in­sluitend afpersing deur munisipale werknemers of kontrakteurs. Geweld en intimidasie is deurlopende drade wat deur al drie hierdie vlakke loop. Dit dien as beskerming vir korrupte belange en word teen ondersoekers, fluitjieblasers, politici en bona fide sakeondernemings ingespan.

Die verslag is die vyfde deel van die CDE se reeks oor Johannesburg, wat die afgelope weke bekendgestel is, “Johannesburg Matters. Fixing South Africa’s Growth Engine”.

Die verslae word saamgestel onder leiding van Ann Bernstein, uitvoerende hoof van die CDE, en Stefan Schirmer, direkteur van navorsing. Al die verslae kan afgelaai word by www.cde.org.za.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos