Tamim Alam, ’n matrikulant aan Grey-kollege in Bloemfontein, is Dinsdagaand, 6 Oktober, aangewys as die 45ste Matrikulant van die Jaar van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Novus Media.
Alam is die vyfde leerling van dié skool wat dié kompetisie vir veelsydige matrikulante gewen het. Byna 80 uitblinkers op alle terreine van oor die land heen het hulle vanjaar ingeskryf. Benewens hul prestasies op die terreine van sport, kultuur en leierskap, handhaaf die deelnemers vanjaar ’n akademiese gemiddeld van 82% met die 13 finaliste wat gemiddeld 86% kry.
Tamim het groot waardering vir sy ouers, Khorshed Alam en Tahmina Akter, wat uit Bangladesj na Suid-Afrika gekom het om vir hom en sy ouer broer, Tanbir, ’n beter toekoms te verseker. “My ouers het altyd die beste besluite vir ons gemaak om seker te maak ons kry geleenthede.”
Familie is vir hom baie belangrik en sy broer, ’n student in megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch, is ook een van sy rolmodelle wat hom ondersteun in alles wat hy aanpak.
As krieketspeler is die skool se eerstespankaptein, Henro de Wet, ook iemand na wie hy opsien. “Hy is vasberade en gedissiplineerd in alles, werk altyd harder as die res en boonop is hy ook ’n akademiese uitblinker,” sê Tamim.

Dié voornemende student in aktuariële wetenskap sê hy was nog altyd lief vir syfers. Hoewel dit sy ma se droom was dat hy ’n dokter moes word, het hy gevoel daar is ander maniere om mense te help as om ’n geneesheer te word. “As aktuaris sal ek graag mense wil help deur geleenthede te skep; ek wil nie meer daklose mense en bedelaars op straat sien nie. Ek wil mense eerder deur entrepreneurskap help om werk te kry.”
Uit die inskrywings is 25 semifinaliste en eindelik 13 finaliste gekies wat oor twee dae in Bloemfontein op grond van onderhoude en spanwerk deur ’n paneel beoordelaars beoordeel is.
Die waarde van die beurse en geld wat die topgroep ontvang, is meer as R500 000. Benewens die UV-beurse, ontvang die finaliste ook geld en geskenke van die borge die Kovsie-Alumnitrust (KAT), Absa, Forvis Mazars, ook die amptelike ouditeurs, Pick n Pay Preller Walk en Novus Media.
Twee spesiale pryse met prysgeld van R5 000 elk is ook toegeken. Francois Cilliers, ’n prefek van Grey-kollege, het die KAT-prys vir beste persoonlike sportprestasie vanweë sy internasionale deelname aan driekamp ontvang. Die Absa-vonkelpersoonlikheid, soos deur die deelnemers aangewys, was Jenna du Plessis, onderhoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein.
Agtergrond
Die kompetisie is die eerste keer in 1981 as die Matrieknooi-kompetisie begin. In 1997 is besluit om dit ook vir seuns oop te stel. In 2000 was Rabeen Lutchman van die Hoërskool Dundee, en deesdae ’n pediater in Kaapstad, die eerste seun wat die kompetisie gewen het. Hoewel die meeste wenners Vrystaters is, was daar ook wenners van die Noord-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Oos-Kaap, Gauteng, Limpopo en Noordwes.
Die wenners en finaliste oor die jare het meestal medici geword. Vanjaar se wenner is een van net twee in die groep wat nie in ’n mediese rigting gaan studeer nie. Die res wil meestal dokters word, met twee wat optometrie wil studeer en een fisioterapie.
