VRK: Klómp Bokke sal uitstorm in Sharks-kragmeting

Stormers-voorspeler Deon Fourie boender oor ’n All Black.
Stormers-voorspeler Deon Fourie boender oor ’n All Black. Foto: Stormers.

Sewe Springbokke sal Saterdag hul eerste wedstryd van die seisoen vir die Stormers speel wanneer hulle die Sharks in ’n Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-derby in die Kaapstad-stadion pak.

Die skrumskakel Haashim Pead staan gereed om sy Stormers-buiging vanaf die plaasvervangersbank te maak in ’n wedstrydgroep wat altesaam 11 Springbokke insluit.

Die Stormers sal in hul nuwe swart trui, ’n huldeblyk aan die ikoniese “Men in Black”-veldtog van 1999, uitdraf vir die afskop om 16:00.

Daar is drie veranderinge onder die agterspelers, met Damian Willemse op heelagter en Sacha Feinberg-Mngomezulu wat saam met Cobus Reinach die skakelpaar vorm. Pead en Wandisile Simelane is die twee agterspelers op die plaasvervangersbank.

In die voorry sal Wilco Louw sy eerste wedstryd vir die Stormers sedert 2020 speel, terwyl Deon Fourie dekking op haker bied en saam met die stutte Neethling Fouché en Vernon Matongo op die bank sit.

Stormers.

Die slot Adré Smith maak vir die eerste keer dié seisoen die beginspan, terwyl Paul de Villiers terugkeer in die losvoorspelersgroep, met Siya Kolisi wat saam met De Villiers aan die ander kant van die skrum sal sak. Evan Roos en Riley Norton is ook onder die plaasvervangers wat na verwagting in die tweede helfte ’n groot impak sal maak.

Die Stormers-breier, John Dobson, sê die span se eerste tuiswedstryd van die seisoen beloof om iets besonders te wees.

“Dit is fantasties om ’n span soos dié aan te kondig wat propvol uitsonderlike talent is, van Deon Fourie met 141 wedstryde vir die Stormers tot Haashim Pead wat sy eerste verskyning vir ons maak.

“Dit was bemoedigend om te sien hoe die spelers wat van internasionale diens terugkeer, dié week hul gewig ingegooi en baie tot ons voorbereiding bygedra het. Dit was moeilik om die span te kies, met verskeie kwaliteitspelers wat uitmis.

“Hierdie naweek speel ons ook ons eerste wedstryd in die nuwe Men in Black-trui, wat ’n gepaste huldeblyk aan ons verlede is en sterk aanklank by ons ondersteuners vind.

“Dit gaan Saterdag ’n fantastiese geleentheid in die stadion wees, buiten die rugby wat tipies intens gaan wees. Ons hoop ons ondersteuners kom in groot getalle om elke oomblik saam met ons te geniet,” het hy gesê.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos