Dobbo oor kus-derby: ‘Dit gaan soos ’n toetswedstryd wees’

Stormers-afrigter, John Dobson.
Stormers-afrigter, John Dobson. Foto: Gallo Images.

Die Stormers se afrigter, John Dobson, het ’n meer besonderhede gegee oor beserings binne sy oefengroep voor Saterdag se wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) teen die Sharks in die Kaapstad-stadion.

Die twee Suid-Afrikaanse spanne pak mekaar in ’n plaaslike derby, met die Sharks wat as voorloper op die VRK-puntelys na Kaapstad reis.

Dobson sê die wedstryd beloof om die intensiteit van ’n toetswedstryd te hê, met talle Springbokke wat in aksie sal wees.

“Die goeie nuus is dat ons beseringsituasie goed lyk. Ons wag nou net dat BJ Dixon speelgereed verklaar word. Marcel Theunissen gaan ongelukkig vir ’n rukkie buite aksie wees omdat hy ’n klein operasie moet ondergaan. Evan Roos is terug, JJ Kotze is terug en ons beskik feitlik oor die sterkste groep spelers waarop ons kon hoop,” het Dobson op sosiale media gesê.

“Ons het geen beserings die naweek opgedoen nie [in die Stormers se nederlaag teen Edinburgh]. Siya Kolisi het reeds weer gespeel en ons gewone Springbokke is terug. Dit is ook lekker om Wilco Louw en Haashim Pead weer in die kleedkamer te sien.”

Dobson sien uit na ’n vol stadion en sterk teenstand van nog ’n Suid-Afrikaanse span, en het bevestig dat die Stormers hul sterkste moontlike span sal uitstuur.

“Ons gaan ’n heel ander span wees as die een wat moontlik verlede week gespeel het,” het hy gesê.

“ ’n Volgepakte stadion op ’n Saterdagmiddag om vieruur gaan iets besonders wees, en ons is baie opgewonde daaroor.

“Dit is seker so goed soos ’n plaaslike derby kan wees as jy kyk na die gehalte van spelers in albei spanne. Dit is dieselfde spelers wat die land ’n paar weke gelede trots gemaak het en wat nou Saterdagmiddag teen mekaar te staan gaan kom in wat waarskynlik van die beste Suid-Afrikaanse rugby gaan wees.

“Dit gaan daar buite soos ’n toetswedstryd wees, en dit gaan iets besonders wees.”

  • Die wedstryd skop Saterdag om 16:00 af.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos