Die departement van water en sanitasie het eThekwini beveel om op te hou om water bo sy gelisensieerde limiete te onttrek nadat die stad nie daarin kon slaag om sy waterverbruik voldoende te verminder nie. Die nieregeringsorganisasie WaterCAN sê die stad se leierskap behoort aanspreeklik gehou te word eerder as gewone inwoners.
Die departement het sedert 2023 herhaaldelik toegewings aan die stad toegestaan, maar die eThekwini-munisipaliteit se verontagsaming van die streek se watersekerheid plaas groot dele van KwaZulu-Natal in gevaar.
In ’n brief aan die eThekwini-burgemeester, Cyril Xaba, het die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, gesê dat die vereiste vermindering in waterverbruik wat in Augustus 2025 belowe is – ’n vermindering van 1% per maand oor agt maande – nie bereik is nie.
Die departement het gewaarsku dat voortgesette wateronttrekking bo die gelisensieerde perke die risiko van ernstige beperkings en moontlike stelselonderbrekings in die streek se watervoorsieningstelsel verhoog.
Die departement se besluit kom te midde van ernstige probleme met die stad se waterstelsel en ’n groot afhanklikheid van watertenkwaens. Volgens die departemnet is die kern van die krisis dat die stad ’n onvermoë het om sy waterinfrastruktuur in stand te hou en te herstel.
Een van die departement se redes vir die besluit was dat indien die stad toegelaat sou word om voort te gaan met oormatige wateronttrekking, dit die risikoprofiel in die streek verder kon verhoog in die lig van die voorspelde sterk El Niño-verskynsel, wat na verwagting tot aan die einde van die 2026/’27-somerseisoen sal voortduur.
Die stad kan ook weens ’n tekort aan loodgieters, voertuie en ander noodsaaklike hulpbronne nie daarin slaag om waterlekkasies en ander probleme op te los nie. Volgens die departement genereer 55,6% van die water wat eThekwini se waterstelsel binnekom, nie inkomste vir die munisipaliteit nie, onder meer weens die waterlekkasies en probleme met die stad se infrastruktuur.
Volgens die departement het die aantal onopgeloste waterfoute van 744 in November 2025 tot 14 776 teen Mei 2026 toegeneem. Dit het pogings om waterverliese en die vraag na water te verminder, aansienlik ondermyn.
Vertragings met die aanstelling van eksterne loodgieterskontrakteurs het ook die herstel van lekkasies en ander maatreëls om nie-inkomste-genererende water te verminder, belemmer.
Dr. Ferrial Adam, uitvoerende direkteur van WaterCAN, het gesê hoewel die organisasie die departement se optrede in beginsel ondersteun, sal die gemeenskappe wat waarskynlik die swaarste geraak word, dié in informele nedersettings en arm en landelike gebiede wees.
WaterCAN het ook verwys na die onlangse dood van ’n persoon in eThekwini tydens ’n voorval met ’n munisipale watertenkwa. Volgens Adam beklemtoon dié voorval die moontlike gevolge van gemeenskappe se afhanklikheid van watertenkdienste te midde van waterskaarste.
WaterCAN vra dat eThekwini se waterbestuur ondersoek word en verantwoordelike amptenare aanspreeklik gehou word.
WaterCAN eis die volgende optrede:
- Die stad se water- en sanitasie-eenheid moet deur die departement van water en sanitasie en/of ander instansies soos die ouditeur-generaal en die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek word.
- Die stad moet alle huidige en historiese koste verbonde aan munisipale en privaat bedryfde watertenkdienste bekend maak.
- Die departement van water en sanitasie moet strafmaatreëls teen die verantwoordelike leierskap van die stad instel en individue aanspreeklik hou.
