‘Herbou Johannesburg soos ná oorlogverwoesting’

’n City Power- werknemer in Roodepoort ten tyde van ’n geldinvorderingsveldtog.
’n City Power- werknemer in Roodepoort ten tyde van ’n geldinvorderingsveldtog. Foto: Sharon Seretlo, Gallo Images.

Die afbakening van City Power se inkomste kom te midde van ’n ernstige finansiële en bedryfskrisis by die nutsmaatskappy. Volgens die Centre for Development and Enterprise (CDE) se jongste verslag, “Powering Joburg’s Turnaround”, wat onlangs bekend gemaak is, het City Power se bedryfstekort teen 2025 R4,3 miljard beloop, terwyl sy netto interne oortrokke rekening by die stad teen 31 Maart 2026 tot R19,1 miljard gestyg het.

Ann Bernstein, die direkteur van die CDE, lewer ’n pleidooi in die verslag dat enkele doelgerigte stappe in die regte volgorde gedoen word: “Stabiliseer leierskap, beveilig die kontant, stop die bloei­ery en hou die ligte aan; vestig ordelikheid sonder skroom en van kritieke belang: dui aan waar die mense en geld vandaan gaan kom.”

Wayne Duvenage, uitvoe­rende hoof van Outa, sê Johannesburg is nie noodwendig verby die punt van herstel nie.

Hy vergelyk die moontlik­heid van ’n herstel met stede wat in oorloë verwoes is en later herbou is. Volgens hom is die voorwaarde dat die stad anders bestuur moet word – met ’n fokus op diensle­wering, professionele bestuur, die uitskakeling van korrupte netwerke en die behoorlike besteding van elke rand wat ingevorder word.

“Ek glo Johannesburg kan reggemaak word,” het hy gesê.

Vir Duvenage lê die oplossing uiteindelik in die manier waarop die stad bestuur word. Hy sê ’n regering wat daarop fokus om die stad in die belang van sy inwoners te bestuur, kan die stelsels en prosesse wat nie werk nie, verander en korrupte netwerke takel.

Hy meen ook die stad se huidige inkomste is nie noodwendig onvoldoende om herstel moontlik te maak nie. Die uitdaging is eerder hoe daardie geld bestuur en bestee word.

Die nuwe ­finansiële afbakening gee City Power nou ten minste ’n duideliker geldstroom, maar dit skep ook ’n nuwe toets.

As die 70% vinniger en meer voorspelbaar by City Power uitkom, sal inwo­ners uiteindelik wil weet wat daarmee gebeur. Die ­afbakening kan dus die begin van ’n nuwe hoofstuk wees.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos