Die opwinding het begin. Oor presies 12 maande bars rugby se grootste wêreldskouspel in Australië los, met ’n rekordgetal van 24 nasies, 2,5 miljoen beskikbare kaartjies en ses weke van onophoudelike drama. Die huidige kampioene, die Springbokke, maak reeds aanspraak op ’n ongeëwenaarde vyfde Webb Ellis-beker.
Die toernooi word oor sewe stede aangebied: Sydney, Brisbane, Perth, Adelaide, Melbourne, Townsville en Newcastle. Ondanks kommer oor rugby se gewildheid in sekere markte, is die vraag na kaartjies buitengewoon groot.
Meer as 750 000 kaartjies is reeds deur ondersteuners uit 135 lande opgekoop, met Australië, die Verenigde Koninkryk, Nieu-Seeland, Japan en Frankryk onder die grootste kopers. Chile, die Verenigde State en Kanada het ook sterk belangstelling getoon, met meer as die helfte van die beskikbare kaartjies wat binne die eerste ses uur verkoop is.
“Dit is ’n baie goeie teken,” het Brett Robinson, hoof van Wêreldrugby, gesê. “Ons is ongelooflik optimisties en opgewonde. Dit gaan ’n fees wees soos min ander op aarde.”
Rekordgetalle wink
Ongeveer 2,4 miljoen ondersteuners het die 2023-Wêreldbeker in Frankryk bygewoon. Met 2,5 miljoen kaartjies beskikbaar vir die Australiese toernooi, lyk dit asof dié rekord gaan sneuwel.
Die volgende ronde kaartjieverkope word dié week bekendgestel en die vraag na topwedstryde soos Australië teen Nieu-Seeland, Engeland teen Wallis, Ierland teen Skotland en die uitspeelrondes is besonder groot.
Die toernooi sal waarskynlik ook ’n groot ekonomiese hupstoot vir rugby in Australië wees, wat vanjaar ’n aansienlike bedryfsurplus aangeteken het ná die winsgewende Britse en Ierse Leeus-toer van 2025. Voorsitter Daniel Herbert het gesê die aanbied van die mans- en vrouewêreldbekertoernooie in onderskeidelik 2027 en 2029 is ’n “eenmalige geleentheid vir ’n geslag”, met die hoop om sowat A$100 miljoen in te bring.
Springbokke jaag rugby-onsterflikheid na
Slegs vier lande het al ooit die Webb Ellis-beker gewen: Suid-Afrika (4), Nieu-Seeland (3), Australië (2) en Engeland (1). Die Springbokke is tans die groot gunstelinge om ’n vyfde titel te verower.
Onder leiding van Rassie Erasmus was Suid-Afrika onlangs op hul beste toe hulle die All Blacks met 3-1 in die Greatest Rivalry-reeks geklop het. Dit het hul status as die wêreld se voorste span verder versterk en ’n duidelike waarskuwing aan hul teenstanders gestuur.
Met die huidige loting is dit onwaarskynlik dat Suid-Afrika en Nieu-Seeland mekaar in die eindstryd sal ontmoet. Indien albei spanne hul groepe wen soos verwag word, kan hulle eerder reeds in ’n spog-kwarteindstryd teen mekaar te staan kom.
