Iran se Revolusionêre Wag het Sondag aangekondig dat hy beslag gelê het op ’n tweede Amerikaanse onderwaterhommeltuig in die strategies belangrike Straat van Hormuz, wat Teheran tydens die maande lange oorlog in die Midde-Ooste geblokkeer het.
Volgens die staatsuitsaaier het die vloot van die Islamitiese Revolusionêre Wag (IRGC) in ’n verklaring gesê sy lede het die gevorderde onbemande onderwatertuig suksesvol buitgemaak tydens ’n gekoördineerde, ingewikkelde operasie waarin intelligensie-inligting en elektroniese oorlogvoering ingespan is.
Die IRGC beweer die hommeltuig het in die Straat van Hormuz vir spioenasiedoeleindes geopereer. Die tuig is as ’n Remus 600-outonome onderwatervoertuig geïdentifiseer en is volgens die verklaring nou in die hande van die vloot se spesialiste, wat die data daarop gaan herwin.
Nie die eerste keer nie . . .
Die Wag het vroeër vandeesmaand gesê hy het nog ’n Amerikaanse onderwaterhommeltuig in die seestraat buitgemaak. Die Straat van Hormuz was van kardinale belang vir die wêreldwye olie- en gasvervoer voordat die oorlog in die Midde-Ooste laat in Februarie uitgebreek en skeepsverkeer ontwrig het.
Iran handhaaf sedert die uitbreek van die konflik ’n blokkade van die Straat van Hormuz, terwyl die Verenigde State ’n teenblokkade van Iranse hawens ingestel het.
