André-Hugo Venter was die amptelike speler van die wedstryd in die Stormers se kragmeting teen Connacht in Galway, Ierland.
En hoewel hy nie ’n perfekte wedstryd gehad het nie, wil ons Bok-breier Rassie Erasmus se aandag weer op Venter vestig deur hom ook as ons speler van die wedstryd te kies.
Die Bok-haker Malcolm Marx is heelmoontlik die beste speler in sy posisie in die wêreld, maar Erasmus sal hárd moet werk om ’n paar spelers rondom hom te vestig wat kan kers vashou by dié breker.
Dus is ’n vertoning soos dié van Venter tydens die Stormers se 29-15-oorwinning teenoor Connacht een wat nie net vir die Streeptruie nodig was nie, maar moontlik ook vir die Bokke in die toekoms.
Venter het hard gelak, stewig gelyk agter stoomroller-rolmale, by die afbreekpunte vir die bal meegeding en meer kere as nie die bal sekuur by die lynstaan vir sy span besorg.
Met sy aanvallende lopies het hy ook talle kere oor die voordeellyn gebreek voordat hy platgetrek is.
Hier en daar het dinge skeefgeloop, maar Venter se volledige 80 minute op die veld het hoop gegee in ’n posisie waaroor Erasmus beslis kopkrap.
