Dit is storie wat baie Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers soveel keer vantevore laat kopkrap het: Ons is talle kere by die doellyn, maar die telbord wys dit nie . . . beloning.
Dit was die tema van die Stormers se openingsoorwinning van 29-15 oor Connacht in hul Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-kragmeting in Galway Vrydagaand.
Twee drieë in die laaste minute het die besoekers se oorwinning mooier laat lyk as wat dit werklik was.
Die Stormers het verskeie aspekte van die spel oorheers, maar sal hul afrondingsvermoë moet verbeter, ’n probleem wat hulle reeds geruime tyd pla.
John Dobson se span is reeds voor die afskop erg ontwrig toe Evan Roos en Marcel Theunissen weens beserings onttrek moes word.
Dit het daartoe gelei dat Riley Norton vanaf slot na flank geskuif het, terwyl Louw Nel na nommer ses beweeg het en Gary Porter uit die plaasvervangersbank na die beginspan by slot ingesluit is.

Hoewel Connacht die wedstryd beter begin het, was dit die Stormers wat in die negende minuut eerste punte aangeteken het toe Jurie Matthee ’n strafskop vir ’n voorsprong van 3-0 oorgeklits het.
Namate die Stormers hulself beter in die wedstryd begin vestig het, het hul verdediging Connacht in bedwang gehou en hul skrum begin oorheers, wat waardevolle aanvallende geleenthede geskep het.
In die 19de minuut het ’n strafskop uit ’n skrum tot ’n aanvallende lynstaan gelei. Nadat die Stormers se dryfmaal kort van die lyn gestuit is, het skrumskakel André Warner ’n slim skuins skop agter die verdediging geplaas wat deur Warrick Gelant opgeraap is vir ’n verdoelde drie en ’n voorsprong van 10-0.
Die Stormers het daarna verskeie verdere geleenthede in Connacht se rooigebied geskep, maar kon dit nie in punte omskep nie.
Connacht het egter hul kans voor rustyd benut toe Mack Hansen oor die lyn geduik het nadat die Stormers aanvanklik ’n Connacht-dryfmaal uit ’n aanvallende lynstaan gestuit het.
Sam Gilbert het die drie verdoel om die Stormers se voorsprong met twee minute oor na 10-7 te verklein.
Wat daarna gevolg het, was ietwat vreemd. Die Stormers het, eerder as om die bal uit te skop toe die horlosie reeds in die rooi was, besluit om vanuit hul eie helfte aan te val.
Connacht het balbesit gewen en, aangevuur deur die tuisskare, hul tweede drie van die wedstryd gedruk toe losskakel Josh Ioane deur die besoekers se verdediging gebreek het om Connacht met rustyd ’n voorsprong van 12-10 te gee.
Dit was ’n voorsprong wat vyf minute tevore onwaarskynlik gelyk het, maar die Stormers het eenvoudig nie hul oorheersing vir die grootste deel van die eerste helfte benut nie.
Die Stormers het die tweede helfte goed begin, maar twee besoeke aan die rooigebied vermors toe Seabelo Senatla oor die doellyn opgehou is en Matthee daarna ’n strafskop gemis het wat sy span weer voor kon plaas.
Connacht het hul voorsprong in die 52ste minuut vergroot nadat die Stormers gestraf is. Gilbert het die strafskop reg van voor die pale oorgeklits om die tuisspan se voorsprong tot 15-10 te rek.
Die Stormers het uiteindelik in die 58ste minuut ’n besoek aan die doelgebied laat tel nadat Connacht se kaptein, Paul Boyle, met ’n geel kaart van die veld gestuur is en die tuisspan tot 14 man verminder is.
Ná verskeie fases van drukspel op die tuisspan se doellyn het Sazi Sandi uiteindelik deur die Connacht-verdediging gebars vir ’n verdoelde drie wat die Stormers met 17-15 laat voorloop het.
Ondanks nog ’n paar vermorste geleenthede het die Stormers die deurslaggewende drie twee minute voor die einde aangeteken toe debutant Vernon Paulo van naby oor die lyn gegaan het.
Nog ’n drie het gevolg toe Ezekiel Ngobeni op ’n fout deur Connacht toegeslaan het, met die plaasvervanger-skrumskakel wat die geleentheid benut het.
Daar is nog heelwat waaraan die Kapenaars moet werk, maar ’n bonuspuntoorwinning weg van die huis af is uiteindelik al wat saak maak.
