Ramaphosa se erfenisboodskap

Pres. Cyril Ramaphosa.
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS.

Pres. Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners vandag op Erfenisdag opgeroep om die land se uiteenlopende geskiedenisse, tale en kulture as ’n bron van eenheid te omarm, en het in ’n simboliese oomblik die bekende Oudtshoornse digter C.J. Langenhoven aangehaal. Hy het dié digter se woorde gebruik om Suid-Afrikaners aan te spoor om hul deel te doen:

“Vat voor, vat vas,
Skud af hierdie las
Wat sy vra is nie veel
Al wat sy vra is doen jou deel.”

Ramaphosa het tydens sy Erfenisdag-hooftoespraak by die Bongolethu-sportstadion in Oudtshoorn gesê Suid-Afrika se erfenis gaan oor veel meer as kulturele tradisies. Volgens hom sluit dit ook die land se demokrasie, grondwet en die waardes van ubuntu, eenheid en menswaardigheid in.

Hy het spesifiek na die geskiedenis van Oudtshoorn en die Klein Karoo verwys, waar Khoi- en San-rotskuns van die oudste menslike geskiedenisse in die land getuig. Hy het ook hulde gebring aan die streek se politieke geskiedenis en die rol wat gemeenskappe soos Bongolethu en Bridgton in die stryd teen apartheid gespeel het.

Talle toeskouers luister na die president se toespraak in Outshoorn.

“Ons was in die loopgrawe van die stryd saam,” het Ramaphosa gesê, met verwysing na swart, wit, Indiër- en bruin Suid-Afrikaners wat teen apartheid gemobiliseer het.

Hy het gesê die nalatenskap van dié geskiedenis moet nie uitgewis word nie.

Ramaphosa het sy boodskap oor die Suid-Afrika wat volgens hom gebou moet word, sterk verwoord.

Ramaphosa het daarna die land se voorouers se nalatenskap verbind aan die uitdagings waarmee Suid-Afrika vandag worstel.

“Our ancestors left us many things.
They left us languages.
They left us songs.
They left us stories.
They left us knowledge.
They left us traditions.
They left us this beautiful land.
They also left us lessons born from hardship, struggle, and sacrifice.

It is these wonderful endowments: the knowledge, the capability and the dedication that our forebears left us that are enabling us to deal with the challenges of our times such as:”

Hy het onder meer na die land se kragkrisis, ekonomiese bemagtiging, die bevordering van vroue in leiersposisies en jeugwerkloosheid verwys.

Ramaphosa het ook gewaarsku teen mense wat volgens hom verdeeldheid in die samelewing saai, en gesê nasionale eenheid is ’n gedeelde verantwoordelikheid.

“Let us choose this, our country, the Republic of South Africa,” het hy gesê.

Hy het ook gesê die land se volgende hoofstuk moet deur die Nasionale Dialoog gevorm word, met die doel om “’n nuwe visie” vir Suid-Afrika te skep.

Vir Ramaphosa is die vraag op Erfenisdag dus nie bloot waar Suid-Afrikaners vandaan kom nie, maar ook watter land hulle aan toekomstige geslagte gaan nalaat.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos