Vuil, vuiler, Gauteng

Gauteng.

“Dit is ’n skande dat Gauteng vir die meeste dae vanjaar – tot Augustus – die mees besoedelde plek op aarde was.

“Gauteng is met ’n bloedrooi kol op weer- en klimaatkaarte aangedui.”

Só het dr. Patience Gwaze, die nasionale luggehaltebeampte by die departement van bosbou, visserye en die omgewing, die afgelope naweek by ’n beraad oor lug-, water- en grondbesoedeling in Kempton Park gesê.

Die beraad, wat deur die portefeuljekomitee oor die omgewing, landbou en plaaslike ontwikkeling in die Gautengse wetgewer, gehou is, het gehoor tot 45 000 mense sterf jaarliks in Suid-Afrika weens lugbesoedeling.

Volgens Gwaze beloop Suid-Afrika se jaarlikse uitgawes vir die mediese behandeling van mense wat weens lugbesoedeling siek word, $1 triljoen (R16 257 640 000 000). Sy het gewaarsku as daar nie “met mening opgetree” word om Gauteng en die land se lug skoon te kry nie, sal dié probleem handuit ruk.

“Die krisis waarin Gauteng verkeer, word vererger deur verstedeliking, bevolkingsgroei, asook ’n groei in ekonomiese aktiwiteit.”

Gauteng is Suid-Afrika se kleinste, maar mees besoedelde provinsie. Hier woon 16 miljoen mense en vyf miljoen voertuie beweeg daagliks op die provinsie se paaie.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos