Dr. Willem Botha is ’n onderwysman en leksikograaf. Hy het 34 jaar by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gewerk, waarvan 19 jaar as hoofredakteur.
Tydens sy loopbaan het hy onder meer leiding geneem met die bekendstelling van die WAT aanlyn en klem gelê op die dokumentering van Afrikaans in al sy vorme.
Hy het ook nuwe maniere gevind om die WAT te finansier en het bekendheid verwerf vir sy RSG-praatjies en artikels oor Afrikaans. Botha woon saam met sy vrou, Tersia, in die Paarl, waar hy aktief betrokke is by die gemeenskap en kerk, gereeld draf en aan ’n wynproeklub deelneem.
Johannes Froneman het met hom in die Paarl gesels.
‘Afrikaans gaan steeds verander.’
Vrae oor die toekoms van Afrikaans – en watter vorm dit gaan aanneem – is dr. Willem Botha se kos. Hy antwoord graag: “Nee, Afrikaans is nie ’n museumtaal nie, en hy sal na alle waarskynlikheid ook nie een word nie. Vulgêrlatyn leef voort as Italiaans en ander Romaanse tale.
“Dit word selfs beraam dat tot 60% van die Engelse woordeskat van Latyn afgelei is, so ook ’n groot deel van die Nederlandse woordeskat, en daarom ook van die Afrikaanse woordeskat.”
Ontwikkel Afrikaans as spreektaal nie al hoe meer in die rigting van AfriEngels nie?
Daardie proses van taalontwikkeling hou nooit op nie. Enige taal is altyd op pad na ’n volgende ontwikkelingsfase. Jy kan sien hoe die taal eenvoudig spontaan verander.
Die Afrikaans van 1900 lyk baie anders as die Afrikaans van 1950 en daardie Afrikaans lyk weer anders as die taal van 2025.
Ons weet dus vooruit dat Afrikaans oor ’n 100 jaar baie anders sal lyk as tans, soos die geval is met ander moderne tale ook.

Hoe lyk die veranderinge vandag?
Prof. Fritz Ponelis het in 1999 ’n ontstellende profetiese blik op Afrikaans se toekoms gewerp. Volgens Ponelis praat ons reeds vir geruime tyd nie meer idiomatiese Afrikaans nie, maar vertaalde Engels.
Taalgebruik is soos water, dit volg die pad van die minste weerstand, dit loop waar dit wil, dit laat hom nie inperk nie.
Ek hoor Afrikaanse akademici soms op die radio wat nie twee sinne kan praat sonder om op Engels woorde te steun nie . . .
Wat die proses versnel, is die feit dat invloedryke mense hulle ook hieraan skuldig maak.
Die sigbare simptome van hierdie tendens in Afrikaans is die gebruik van Engelse woorde: Bye, amazing, stunning, crazy, blessings . . . die lys is lank.
Vir dekades is daar jag gemaak op anglisismes.
Dit gaan nie meer oor enkele woorde nie, maar oor Engelse konstruksies wat gevolg word. Dit is Afrikaanse woorde wat gebruik word, maar dit is vertaalde Engelse sinne, eintlik leenvertalings.
Die voorbeelde is legio, maar ek noem ’n paar wat baie gereeld voorkom: Die gebruik van vuur in plaas van brand: ’n Vuur het uitgebreek. Of: Hardloop uit tyd in plaas van tyd loop uit.
Wederkerende werkwoorde word verengels: “Moenie bekommer nie” in plaas van “Moenie jou bekommer nie/moenie bekommerd wees nie.”
Sekere voorsetsels word weggelaat na die Engelse model: “Kom saam my” in plaas van “Kom saam met my.”
Die eenvoudige Afrikaanse ja word ingeruil vir “ek doen”, na die voorbeeld van I do.
In Afrikaans kan ons ’n keuse maak uit nommer, getal en syfer, maar in navolging van Engels word slegs nommer gebruik: “Ek weet nie wat die nommers is nie” in plaas van “Ek weet nie wat die syfer/getal is nie.”
Het ons vroeër beter Afrikaans gepraat?
Ja, maar die feit is dat ons hele leefwêreld Afrikaans was – van die tydskrif of boek wat jy gelees het, die TV wat jy gekyk het, jou vorm by binnelandse sake, elke winkel, elke werksplek.
Deesdae praat en skryf almal Engels by die werk en orals elders.
Hul Afrikaans is dus beperk tot informele gesprekke waarin goeie taalgebruik nie so belangrik is nie.
Die dag mag aanbreek dat die sprekers formele Afrikaans verwerp omdat hulle nie ’n formele gesprek daarin kan voer of hulle daarin kan uitdruk as hulle skryf nie.
Waar pas universiteite in?
Afrikaans as wetenskaptaal word/is uitgerangeer aan ons voorheen Afrikaanse en tweetalige universiteite.
LitNet Akademies en Akademia is tans die ligpunte vir Afrikaans as ’n wetenskaptaal.
- Froneman is ’n joernalis en navorser van Kleinmond. Hy is ook kurator van Mediamense.com.
