“Ek droom van ’n Suid-Afrika waar ’n persoon met ’n gestremdheid nie eers hoef te bewys dat hulle ’n plek in die samelewing verdien nie. Waar ’n werkgewer talent raaksien voordat hy ’n rolstoel sien. Waar ’n kunstenaar vir sy kuns erken word en nie bloot vir die manier waarop hy dit skep nie.”
Dié woorde van die motiveringspreker en voormalige Mej. Dowe SA-finalis Sumarie Jordaan verwoord die hart van die tweede seisoen van Verander jou siening. Die doku-realiteitsreeks keer op 25 September na VIA terug en word Vrydae om 20:00 uitgesaai. Oor tien episodes nooi Sumarie bekendes om mense met gestremdhede se leefwêrelde van naderby te leer ken – en kykers om hul eie aannames oor gestremdheid te ondersoek.
Barry van Blerk, groephoof: bemarking van die reeks se hoofborg, Fairtree, verduidelik waarom Verander jou siening soveel aanklank by hulle gevind het:
“By Fairtree is ons waardes vir ons baie belangrik en dit vorm die hart van alles wat ons doen. Ons glo in ware verhoudings, om mense met waardigheid en respek te behandel, en om uiteindelik die lewens van die mense rondom ons te verryk.
“Hierdie reeks herinner ons daaraan om verder as die oppervlak te kyk, die mens raak te sien en elke persoon se individualiteit te waardeer. Dit is vir ons ’n voorreg om deel te wees van Verander jou siening en ’n inisiatief te ondersteun wat hierdie waardes so mooi uitleef.”
Hyundai Suid-Afrika, wat die program se voertuigborg is, meen dit is belangrik om gesprekke oor mense met gestremdhede te help verander.
“By Hyundai glo ons dat insluiting by luister begin. Ons kliënte het verskillende behoeftes, en ons het ’n verantwoordelikheid om hul ervarings te verstaan en maniere te vind om mobiliteit toegankliker te maak. Verander jou siening gee ons die geleentheid om werklik mense en hul ervarings die middelpunt van dié gesprek te maak,” sê Zweli Mnisi, woordvoerder van Hyundai.
Christine Masinga, die maatskappy se menslikehulpbronnedirekteur, beklemtoon dat toegang tot die regte mobiliteitsoplossings mense met gestremdhede in staat stel om bewegingsvryheid te geniet.
“Wat hierdie reeks so kragtig maak, is dat die verhaal vertel word deur mense vir wie dit ’n daaglikse werklikheid is. Wanneer ’n aanbieder met ’n gestremdheid die Hyundai Alcazar bestuur en ’n Hyundai-kliënt wat ook ’n gestremdheid het, bymekaarkom, wys dit wat moontlik is wanneer mobiliteit rondom mense se eiesoortige behoeftes ontwerp word,” sê Masinga.
Bekende gesigte, nuwe perspektiewe
Dié seisoen bring Sumarie bekendes soos Liam Bosman, Francois van Coke, Cintaine Schutte en Elandré Schwartz uit by Suid-Afrikaners met gestremdhede, waaronder ’n Paralimpiese swemmer, mondskilder, komediant, wynkenner en onderwyseres.
Die bekende gas neem aktief aan die deelnemer se dag deel. Só ontstaan eerlike gesprekke, humor, soms ongemak en uiteindelik groter begrip. Die stories word in hierdie seisoen sterker vanuit die perspektief van die persoon met ’n gestremdheid vertel, terwyl kykers ook sien hoe die ervaring die bekende gas beïnvloed.
“Dié seisoen gaan oor meer as bewusmaking. Dit gaan oor die manier waarop ons na mekaar kyk, die aannames wat ons maak en die geleenthede wat ons soms van ander weerhou,” sê Sumarie.

Haar eie lewenservaring en besonderse band met haar tweelingsuster, Elanza, sorg vir ’n diep persoonlike hart in die reeks. Die deelnemers se talente, beroepe, verhoudings en ambisies staan sentraal, met menswaardigheid en geleenthede as deurlopende temas.
Vir Sumarie lê die reeks se waarde ook in wat gebeur nadat die televisie afgeskakel is. “As Verander jou siening net een werkgewer laat besluit om iemand ’n kans te gee, een ouer nuwe hoop gee vir hulle kind se toekoms, of een persoon laat besef dat hulle aannames verkeerd was, het ons reeds iets betekenisvol bereik.
“Ek wil nie hê mense moet ná elke episode net sê: ‘Sjoe, wat ’n inspirasie!’ nie. Ek wil hê hulle moet vra: ‘Wat kan ék anders doen?’ Want ware verandering begin nie wanneer ons net anders kyk nie. Dit begin wanneer ons anders optree.”
Die tweede seisoen van Verander jou siening, met Fairtree as hoofborg, begin op 25 September op VIA. Die reeks bestaan uit tien episodes en word Vrydae om 20:00 uitgesaai.
Sumarie Jordaan antwoord ’n paar vrae oor die nuwe reeks.
Wat wou jy in die tweede seisoen van Verander jou siening verder verken, en hoe verskil dié seisoen van die eerste een?
Die eerste seisoen het gewys hoe groot die behoefte aan hierdie gesprek in Suid-Afrika is. Vir my was dit egter net die begin. Met seisoen twee wou ek die gesprek verder neem. Ek wou hê kykers moet verby die gestremdheid kyk en die méns raaksien.
Een van die grootste verbeteringe wat ons aangebring het, is die manier waarop ons die stories vertel. Ons vertel die verhaal nou baie meer vanuit die perspektief van die persoon met ’n gestremdheid. Terselfdertyd sien kykers deurgaans hoe dié ervaring elke bekende gas beïnvloed – deur hul spontane kommentaar, emosies en eerlike reaksies.
Wat vir my besonders is, is hoe die verhouding tussen die bekende gas en die persoon met ’n gestremdheid deur die episode ontwikkel. Ons sien hoe hulle mekaar leer ken, hoe ’n band gevorm word en hoe hul sienings langs die pad verander.
Hierdie seisoen gaan oor meer as bewusmaking. Dit gaan oor die manier waarop ons na mekaar kyk, die aannames wat ons maak en die geleenthede wat ons soms van ander weerhou. Ek wil hê mense moet ophou vra: “Wat kan hierdie persoon nie doen nie?” en eerder begin vra: “Wat is moontlik as ons hulle ’n regverdige kans gee?”
Kykers ontmoet onder andere ’n Paralimpiese swemmer, mondskilder, komediant, wynkenner en onderwyseres. Hoe het julle die deelnemers gekies, en wat is daar in hul stories wat jou aangegryp het?
Ons wou doelbewus mense uit verskillende beroepe en leefwêrelde kies, want gestremdheid het nie net een gesig of een storie nie.
Wat my van hierdie deelnemers aangryp, is dat elkeen soveel meer is as die etiket wat die samelewing moontlik aan hulle gee.
Ons ontmoet ’n swemmer wat op die hoogste vlak meeding, ’n kunstenaar wat met sy mond skilder en mense wat hul plek in beroepe en bedrywe vol staan waar ander dalk nooit sou verwag het hulle kan wees nie.
Ek dink ons maak dikwels die fout om mense met gestremdhede se prestasies as buitengewoon te beskou bloot omdat hulle ’n gestremdheid het. Maar hierdie mense het hard gewerk. Hulle het talent, dissipline, kennis en ambisie. Hulle vra nie dat die wêreld hulle jammer kry nie. Hulle vra dat die wêreld hulle raaksien. En dit is presies wat ons met hierdie reeks wil doen.
Liam Bosman, Francois van Coke, Cintaine Schutte en Elandré Schwartz is van dié seisoen se bekende gaste. Wat het jou opgeval oor die manier waarop hulle die ervarings aangepak het en wie het ’n kant van hulself gewys wat kykers dalk nog nie ken nie?
Wat my die meeste opgeval het, is hoe ver die bekendes buite hul gemaksone moes beweeg. Ons is so gewoond daaraan om hulle op verhoë en televisie te sien dat ons hulle soms op ’n voetstuk plaas. Maar tydens die verfilming het ek besef hoe plat op die aarde hulle werklik is.
Francois van Coke, Elandré en Mel die Storieverteller het my veral verras. Dit was besonders om hulle weg van die kollig te sien, in situasies waar hulle nie noodwendig geweet het wat om te verwag nie.
Wat my die meeste geraak het, was om te sien hoe die aanvanklike onsekerheid plek maak vir opregte belangstelling, gemak en uiteindelik ’n besonderse band tussen twee mense.
Ons plaas bekendes so maklik op ’n voetstuk, maar wanneer hulle buite hul gemaksone beweeg, sien jy die mens agter die naam. En dít is vir my die mooiste deel van hierdie seisoen.
Die bekendes neem aktief aan iemand anders se dag deel. Kan jy ’n oomblik uit die nuwe seisoen uitsonder waar dié ervaring ’n gas se aannames uitgedaag of hul perspektief verander het?
Wat vir my ongelooflik was, is dat ek by elke bekende gas die volle spektrum van emosies kon sien. Van humor en onsekerheid tot opregte belangstelling en diep emosie. Elkeen het op sy eie unieke manier uitgestaan.
Die blote feit dat hierdie bekendes bereid was om deel van die reeks te wees en hulself buite hul gemaksone te plaas, beteken vir my ongelooflik baie.
Mel die Storieverteller se episode het my besonder diep geraak. Dit begin so lig en humoristies, maar teen die einde raak dit ongelooflik emosioneel. Ons sien ’n baie dieper kant van Mel wat kykers dalk nog nie ken nie.
Elandré het my ook geweldig verras. Hy het teen die einde van sy episode só emosioneel geraak dat ek kon sien hoe diep die ervaring hom geraak het.
Maar een oomblik wat ek nooit sal vergeet nie, was iets wat Francois van Coke gesê het. Toe ons hom vra wat hy vir ander bekendes sou sê wat dalk huiwer om aan die reeks deel te neem, was sy boodskap dat hulle hul siening moet verander en dit moet doen, want dit is lewensveranderend.
Om dit uit die mond van ’n rockster soos Francois te hoor, het iets diep binne my geraak. Want dit is presies waarvoor ek met hierdie reeks hoop. Nie net dat mense kyk en sê dit was ’n mooi episode nie, maar dat hulle werklik anders begin dink. As iemand soos hy ná hierdie ervaring vir ander bekendes sê hulle moet hul siening verander omdat dit lewensveranderend is, dan besef ek weer hoekom ons hierdie reeks maak.
Verander jou siening gaan nie net oor die mense wie se stories ons vertel nie. Dit gaan ook oor die mense wat bereid is om te luister, te leer en anders na die wêreld te begin kyk.
Watter gesprek of ontmoeting uit dié seisoen het jóú siening verander, en wat hoop jy kykers sal ná die reeks anders verstaan?

Dis vir my ongelooflik moeilik om net een episode uit te sonder, want elke deelnemer se storie was so uniek. Ek wil amper nie een persoon meer erkenning gee as die ander nie, want elkeen het op sy of haar eie manier ’n diep indruk op my gemaak.
Twee ontmoetings wat my wel besonder diep geraak het, was dié met Megan en Ilana.
Megan leef met spierdistrofie. Sy weet dat haar tyd moontlik beperk is, maar sy het steeds hierdie ongelooflike groot drome. Sy is ’n onderwyseres wat ’n geweldige impak op die kinders in haar klas maak.
Om te hoor hoe die kinders oor haar praat, hoe lief hulle vir haar is en hoeveel sy vir hulle beteken, was vir my ongelooflik emosioneel. Dit het my opnuut laat besef hoe groot die verskil is wat een mens in ander se lewens kan maak.
Ilana, wat blind en hardhorend is, se storie was vir my net so insiggewend. Ek leef self met ’n gestremdheid, maar dit beteken nie dat ek outomaties iemand anders se wêreld verstaan nie. Haar ervaring het my herinner dat ons almal verskillende uitdagings, perspektiewe en maniere het waarop ons die lewe aanpak.
En dit is eintlik wat elke episode vir my besonders gemaak het. Ek het by elke persoon iets geleer. Ek hoop kykers besef dat daar nie net een storie van gestremdheid is nie. Elke mens het sy eie drome, uitdagings, talente en unieke manier om ’n verskil in die wêreld te maak.
As hierdie reeks ons kan leer om minder aannames te maak, meer te luister en die mens agter die gestremdheid raak te sien, dan het ons bereik waarvoor ons gehoop het.
- Verander jou siening keer op 25 September na VIA (DStv-kanaal 147) terug en word Vrydae om 20:00 uitgesaai.
