“ ’n Plaas is meer as net grond wat mense verbind, myle en myle heen. Om ’n boer se hart te wen, is om hierdie band te deel met die land, sy mense en die groter gemeenskap,” het Reandi Grey, aanbieder van kykNET se gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou, die 11de episode van die 18de seisoen ingelei.
Teen hierdie tyd het die boere die geleentheid gekry om hul potensiële pasmaats aan hul familie en vriende voor te stel. Die vraag wat onwillekeurig opgeduik het, was natuurlik hoe ernstig die boere hul mense se opinies en advies in ag gaan neem wanneer een van die pasmaats haar tasse moet pak.
Maar eers het Reandi by die plase gaan inloer en die gaste op besondere avonture geneem.
Die vere maak die voël

Soos vir Joanè en Rosanne wat sy saamgeneem het na die Cape Parrot Project om die omgewing by Magoebaskloof van naderby te kon aanskou en meer oor die krities bedreigde papegaai-spesie uit te vind. Daar is in hierdie stadium net sowat 2 000 van hierdie geveerdes in Suid-Afrika.

Terwyl die twee met verkykers wel die raar papegaaie kon beskou, het dit hulle geensins gehelp om in hul eie toekoms van naderby te bekyk nie.

Tyd was kosbaar en nie een van die twee het geweet hoeveel tyd hulle nog met Arno gaan spandeer nie.

Maar eers moes hulle ook nog sampioene in die woud gaan oes – en vinnig leer om tussen eetbare en giftige sampioene te onderskei. Die sampioene wat in die dennewoud groei is gelukkig veilig om te eet.

Toe hulle aan die einde van die dag terugkeer plaas toe, het Arno behoorlik van oor tot oor geglimlag. Ja, het hy erken, hy het die twee nogal gemis. En die gevoel was wederkerig . . .
Arno het ook ’n geskenkie ontvang: daardie lieflike handgemaakte sampioenmessie en -borsel wat die twee gaste tydens hul sampioensoektog ontvang het.

Toe dit tyd vir alleengesprekke geword het, het Rosanne vir Arno genoem dat sy vrede in haar hart het. Joanè kon nie ophou vertel hoe baie sy Tzaneen geniet het nie, ook nie hoe passievol en vriendelik sy die mense ervaar het wat hulle deur die loop van die dag ontmoet het nie.
Reandi kom kuier

Arno het erken hy het die twee kuiergaste baie gemis, en dat dit beslis vir hom insig gebied het van hoe dinge kan wees indien hy een van die twee meisies kies om aan te bly. En hy sien boonop uit daarna. Meer nog, hy het baie seker van sake geklink.
Toe hy iemand moes kies om huis toe te stuur, was dit duidelik vir hom ’n gewigtige besluit. Dit was Joanè wat moes groet.
‘Ek is baie bly vir Rosanne, want sy het ’n baie mooi hart, en ek gun dit vir hulle,” het ’n moedige Joanè in die motor op pad weg van die plaas vir Reandi gesê.

“Sy was van die begin af die een,” het Arno aan Reandi erken terwyl hy en Rosanne heel gelukkig langs mekaar op die grasperk gesit het. Hy wou net meer en meer duidelikheid daaroor gekry het, het hy voortgegaan.

“Goed gebeur net soveel makliker as sy teenwoordig is,” het hy gesê. En, het hy voortgegaan, hy het hoendervleis gehad die hele tyd deur toe hy haar brief gelees het.
Vir die wolwe gegooi

Een van Larry Paul se pasiënte. Foto: Skermgreep
Op hulle beurt het Reandi vir Lara en Leonè na Larry’s Wolf Sanctuary by Thaba Bosigo naby Reitz geneem. Dis ’n toevlugshawe vir wolwe wat deur die Kanadees Larry Paul tot stand gebring is.

Hy het vertel dat die meeste van die meer as 150 diere by die skuiling wel wolwe is.

Lara en Leonè het nie net die wolwe gevoer nie, maar moes ook op die trekker spring en die gras sny.

Daarna het hulle na Job van Eden, die bekende ystersmid van Blacksmith Metal Art in Bethlehem, gegaan waar hulle van beskermende oorklere voorsien is – met die opdrag om iets vir JD te maak. Óf ’n kole-grafie óf -krappertjie.

Ook JD het baie bly gelyk toe sy gaste aan die einde van die dag by die plaas opgedaag het. En hy was baie beïndruk met Lara se krappertjie en Leonè se grafie. Terwyl daar ’n milde reëntjie uitgesak het, het die twee gaste ook erken dat dit baie lekker was om weer vir JD te sien, selfs al het hulle hul tydjie weg van die plaas ook geniet.

Maar hoe later, hoe kwater. Dit het begin lyk asof JD gespanne gevoel oor die situasie wat besig was om te ontvou. En hy is nie die enigste een nie. Lara het ook effe gespanne voel, terwyl Leoné rustiger was.

JD wou by haar weet of sy haarself saam met hom op die plaas kan sien. Sy het nie gehuiwer nie en het bevestigend geantwoord. Altwee het oor nog een aspek saamgestem: dinge moenie aangehits word nie. Tyd om die spreekwoordelike kat uit die boom te kyk is belangrik.
Reandi kom kuier

“Ons het nou almal so lekker ge-bond en so . . . en dis nou nie lekker om iemand huis toe te stuur nie,” het JD vir Reandi gesê. Terselfdertyd was hy ook verlig dat sake nou tot ’n punt se kant toe begin staan het. Reandi het sonder huiwering vir JD ’n high five gegee toe hy erken het dat hy baie beslis potensiaal vir die pad vorentoe met een van sy gaste sien.

Wat vir hom die lekkerste was, was dat sy hart én sy kop vir hom dieselfde ding gesê het. Hy het laggend aan Reandi erken dat hy nie daar was om “vriende te maak nie, maar daar is om ’n vrou te soek”. Hy wil nou net vorentoe gaan. Gelukkig vir hom was daar veral een van die twee wat baie graag saam met hom op die plaas wou rondgaan en ook net saam met hom dinge doen.
“En nou’s dit sulke tyd, né?” het dit van ’n ernstige JD gekom toe Lara en Leonè voor hom kom staan het om uit te vind wie gaan saam met Reandi die plaas verlaat.

Dit was Lara se tas wat in die kattebak geplaas is en sy het erken sy was teleurgesteld, maar dat sy oukei sal wees.

Tot JD se groot verligting het Leonè aangekondig dat haar en JD se vriendskap nou verby is – heel in tred met sy verklaring dat hy daar was om ’n vrou te soek . . .
Vir die leeus gevoer

Gelukkig nie letterlik nie. Reandi het vir Lezelle en Madelé na Love Lions Alive Sanctuary by Swinburne in die Vrystaat geneem.

Andi (Thandi) Rive het hierdie toevlugsoord vir leeus in 2015 begin – en dis ’n fassinerende storie opsigself. Toe het hulle kennis gemaak met Summer Loving, ’n leeuwyfie al die pad van Egipte af, wat byna ’n duur prys betaal het vir die nukke en grille van TikTok-smaakmakers . . .
Madelé het in haar element gevoel – sy het haarself immers as ’n cat lady beskryf. Op haar beurt was Lezelle verbaas toe sy besef het dat dié veilige hawe vir leeus nie te ver van haar is nie.

Hulle het ook vir Lucky daar ontmoet. Hy het vir Lezelle en Madelé bygestaan om een van die leeus na ’n nuwe hok te skuif.

Tog het Lezelle gevoel die dag het baie van haar energie getap – en sy was reg om huis toe te gaan. Maar watter huis sou dit wees?

Met die leeus veilig agter slot en grendel, het die twee op hul volgende avontuur gegaan wat hulle by Oak Leather in Clarens laat beland het. Daar moes die twee ’n houtstoeltjie met ’n sitplek van gevlegte leer maak.

Terug op die plaas het Willie ewe hoflik die twee se stoele vir hul uitgetrek toe hulle aan die einde van die dag teruggekeer het plaas toe. Ten spyte van sy bewondering vir hul handewerk met die stoel, was die spanning tasbaar. Wat volgende?
Reandi sê

“Om jou voete te vind in ’n nuwe wêreld, kan uitdagend voel. Maar met ’n beskermende hand oor joune en ’n hart wat weet: dit is waar jy hoort, word ’n nuwe plek en ’n nuwe gemeenskap sommer gou jou huis.”
- Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
