Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep. Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:
Polenta, hoenderdye, vars suurlemoen, heuning, babaspinasie
Met dié bestanddele kan jy die volgende maak:
Heuning-suurlemoen hoender met romerige polenta en spinasie
Bestanddele (genoeg vir 4):
- 6-8 hoenderdye
- 1 koppie polenta
- 1 vars suurlemoen
- 3 eetlepels heuning
- 150-200 g babaspinasie
- Basiese bestanddele uit die kas: olyfolie, sout, swartpeper, knoffel indien jy het, botter en hoenderaftreksel of water
Metode:
- Voorverhit die oond tot 200 °C. Geur die hoenderdye goed met sout en peper.
- Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n oondvaste pan. Plaas die hoenderdye met die velkant na onder in die pan en braai vir ongeveer 5-7 minute totdat die vel goudbruin en bros is. Draai die hoender om.
- Maak die heuning-suurlemoensous deur die heuning, sap en fyngerasperde skil van die suurlemoen, olyfolie, knoffel (opsioneel) en bietjie sout en peper saam te meng. Gooi die sous oor die hoender in die pan.
- Plaas die pan in die oond en bak vir ongeveer 20–25 minute, of totdat die hoender heeltemal gaar is. Skep halfpad deur die baktyd van die heuning-suurlemoensous oor die hoender. Die sous moet lekker taai en effens gekaramelliseer word.
- Terwyl die hoender bak, bring ongeveer 4 koppies hoenderaftreksel of soutwater tot kookpunt. Klits 1 koppie polenta stadig by. Kook volgens die instruksies op die verpakking. Kits-polenta kan binne ’n paar minute gaar wees, terwyl tradisionele polenta langer neem. Roer ’n klontjie botter deur wanneer dit gaar is. As jy Parmesan-kaas het, kan jy ook ’n handvol byvoeg. Geur met sout en peper.
- Wanneer die polenta amper gereed is, roer die babaspinasie by. Dit behoort binne ’n minuut of twee te verwelk. Voeg ook ’n klein skeut suurlemoensap by indien verkies.
- Skep die romerige spinasie-polenta in borde of bakkies. Plaas die bros hoenderdye bo-op en skep van die taai heuning-suurlemoensous oor.
Indien jy ons kode in die koerant skandeer het, is hier jou drie variasies op dié resep met dieselfde bestanddele:
Hoender met polenta-krummels en spinasieslaai
- Gebruik droë polenta soos broodkrummels: doop die hoender in ’n bietjie geklitste eier. Meng die droë polenta, sout, peper en suurlemoenskil. Doop nou die hoenderdye daarin sodat dit heeltemal gekrummel is. Bak of panbraai tot bros en deurgaar.
- Meng bietjie heuing, suurlemoensap, olyfolie en sout en peper en drup dit bo-oor die spinasie vir ’n lekker vars slaaitjie.
Gebakte polenta-tert met hoender en spinasie
Voeg by: twee groot eiers, 250 ml room
- Maak die polenta gaar en laat dit afkoel. Druk dan in die bodem en teen die kante van ’n tertbak om ’n kors te vorm. Bak by 180 °C vir ’n paar minute totdat dit effens bros is.
- Maak die hoenderdye gaar in ’n pan of oondbak die vleis. Sny die vleis van die bene af en plaas in ’n mengbak. Meng 3 e heuning en die sap van die suurlemoen en drup dit bo-oor die vleis. Roer ook die babaspinasie by. Skep die mengsel in die voorbereide tertkors.
- Klits die eiers en room saam. Gooi dit bo-oor die bestanddele in die tertkors.
- Bak by 180 °C vir ongeveer 25 minute tot gaar. Laat afkoel tot kamertemperatuur en sny in skywe om voor te sit.
Gevulde hoenderdye met spinasie en polenta
Voeg by: Feta
- Maak ’n dik polentamengsel en roer die gekapte babaspinasie deur. Voeg ook 1 wielietjie gekapte feta by.
- Ontbeen die rou hoenderdye. Vul dit met die polentamengsel en rol styf op. Jy kan dit met ’n toutjie vasbind sodat dit sy vorm behou, of steek dit vas met tandestokkies.
- Plaas die gevulde hoenderdye in ’n oondvaste bak. Klits die heuning en suurlemoensap saam en drup oor die vleis. Bak teen 180°C vir 30-40 minute of totdat die vleis deurgaar is. Sny die vleis in skyfies wanneer jy dit voorsit.
