Bok-span vir Wallabies-kragmeting: André Esterhuizen sal 1ste keer die troepe lei

Bok-senter André Esterhuizen duik oor vir die Bokke se enigste drie in die eerste Bok-toets van die Greatest Rivalry. Foto: Charmaine Visser.
Bok-senter André Esterhuizen duik oor vir die Bokke se enigste drie in die eerste Bok-toets van die Greatest Rivalry. Foto: Charmaine Visser.

Dit was ’n gegewe. Aangesien die Bok-span grotendeels dieselfde gebly het vir die vier toets van die Greatest Rivalry-reeks, was die gesprekke om die braaivleisvure en tussen kenners dat Bok-breier Rassie Erasmus sal span behoorlik sou skommel.

Dié keer speel die Bokke in ’n eenmalige toets teen Australië in Perth. Tesame met die tientalle veranderinge, sal Bok-breker André Esterhuizen ook vir die eerste keer die span aanvoer.

Boonop sal dit ’n spesiale geleentheid vir agtsteman Jasper Wiese wees wat vanaf die plaasvervangerbank vir sy 50ste toets in die groen-en-goud sal opdraf. Wiese het tydens die toetse teen die All Blacks bewys dat hy die voorkeur agtsteman vir die Bokke is én talle gesprekke met sy spel aangehits dat hy tans die beste speler wêreldwyd in dié posisie is.

Verder het Erasmus 13 veranderinge aan sy beginspan aangebring, met slegs slot Eben Etzebeth en vleuel Ethan Hooker wat hul plekke behou het ná die Bokke se oorwinning van 43-28 oor die All Blacks in Baltimore net meer as ’n week gelede, waar hulle die eerste Greatest Rivalry-titel beklink het.

Die veranderinge sluit ’n nuwe voorry in met stutte Jan-Hendrik Wessels en Zachary Porthen en haker Johan Grobbelaar, terwyl Etzebeth saam met Franco Mostert in die tweede ry sal speel. Paul de Villiers en Elrigh Louw sal op flank uitdraf, met Marco van Staden op nommer agt.

Bok-breker Eben Etzebeth.
Bok-breker Eben Etzebeth. Foto: Facebook/Springboks.

Die Bok-afrigter het ook ’n nuwe skakelpaar gekies in Herschel Jantjies en Handré Pollard, wat herstel het van die besering wat hom tydens Greatest Rivalry-reeks langs die kantlyn gehou het. Esterhuizen sal saam met Canan Moodie in die middelveld speel, terwyl Hooker, Edwill van der Merwe en Aphelele Fassi die agterste drie vorm.

Altesaam nege spelers in Erasmus se wedstrydgroep van 23 het in die laaste toets teen die All Blacks in die VSA gespeel. Die trio van Malcolm Marx (haker), Ox Nche en Wilco Louw (albei stutte) sal die tweede voorry vorm, terwyl Lood de Jager weer dekking op slot sal bied en Wiese as losvoorspeler-reserwe sal dien.

Die drie agterspelers op die bank is skrumskakel Morné van den Berg en die veelsydige spelers Sacha Feinberg-Mngomezulu en Quan Horn.

  • Die toets in Perth skop Sondag om 11:45 (SA tyd) af.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos