Gauteng gaan motoris se rekening ná verkeersligskade haal

’n Motoris kan nou opdok vir die herstel van verkeersinfrastruktuur nadat ’n verkeerslig by ’n besige kruising in Roodepoort beskadig is.

Die Gautengse departement van paaie en vervoer gaan ’n eis instel om die koste van herstelwerk en die herstel van die verkeerslig-infrastruktuur by die kruising van Hendrik Potgieterweg en Nic Diedericksstraat terug te vorder.

Die departement sê die eis sal ingestel word onderhewig aan die nodige regs- en bewysvereistes.

Kedibone Diale-Tlabela, Gautengse LUR vir paaie en vervoer, sê vandalisme, diefstal en skade wat deur voertuie veroorsaak word, plaas toenemende druk op beperkte openbare fondse.

“Openbare geld moet telkens vir herstelwerk aangewend word wat vermy kon word,” sê sy.

Volgens die departement word verkeersligte nie net weens ouderdom of tegniese probleme buite werking gestel nie. Kabels word gesteel, infrastruktuur word gevandaliseer en onwettige aansluitings word gemaak, terwyl voertuie ook verkeersligte en ander padinfrastruktuur in botsings beskadig.

Die Gautengse departement sê drie motoriste wat na bewering betrokke was by dronkbestuurvoorvalle waarin padinfrastruktuur beskadig is, is tot dusver geïdentifiseer.

Ingevolge die Gauteng Transport Infrastructure Act kan ’n hof, waar van toepassing, ná ’n skuldigbevinding ’n oortreder gelas om die LUR te vergoed of beskadigde provinsiale infrastruktuur te herstel, te verwyder of terug te bring na sy vorige toestand.

Die departement toets ook nuwe tegnologieë om die monitering van diefstal, vandalisme en ander voorvalle by provinsiale verkeersligte te verbeter.

Diale-Tlabela doen intussen ’n beroep op inwoners om skade, diefstal, vandalisme en verdagte aktiwiteite by verkeersligte aan te meld.

Gebreekte of foutiewe verkeersligte kan by TrafficSignals@gauteng.gov.za aangemeld word.

Die departement waarsku motoriste ook om nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie.

Foto: Verskaf


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos