Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet die koste van ’n private vervolging teen ’n man wat tot 20 jaar tronkstraf vir verkragting gevonnis is, dra nadat die KwaNojoli-landdroshof ’n kostebevel teen die NVG toegestaan het.
Die bevel is Maandag, 14 September, toegestaan in dieselfde hof waar Isaac Andile Memese se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis van die hand gewys is.
Memese is op 5 Maart vanjaar skuldig bevind en gevonnis vir die verkragting van Celeste Gouws in 2017. Gouws het toestemming gegee dat sy by die naam geïdentifiseer word.
Volgens AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die NVG op 30 Julie 2020 ’n nolle prosequi-sertifikaat uitgereik. Dit het die weg gebaan vir private vervolging nadat die staat besluit het om nie die saak voort te sit nie.
Die verhoor het op 13 Julie 2021 begin. Die private vervolging se saak is op 23 Februarie 2022 gesluit, terwyl die verdediging eers op 20 April 2023 sy saak gesluit het. Slotbetoë is op 12 Julie 2024 aangehoor.
Die uitspraak, wat aanvanklik vir November 2024 verwag is, is ná verskeie uitstelle uiteindelik op 5 Maart vanjaar gelewer.
Die lang proses het volgens AfriForum aansienlike koste meegebring, onder meer vir die teenwoordigheid van sy privaatvervolgingseenheid se span by talle hofverskynings en reise van sowat 800 km tussen Gauteng en die Oos-Kaap.
Die koste van onder meer advokate Gerrie Nel en Phyllis Vorster sal volgens AfriForum deel vorm van die rekening wat aan die NVG voorgelê word.
Derde kostebevel
Die kostebevel is die derde wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê hy verkry het.
Artikel 15(2) van die Strafproseswet maak voorsiening daarvoor dat ’n hof, onder bepaalde omstandighede, die NVG en ’n beskuldigde kan gelas om die private vervolger se koste en uitgawes te betaal wanneer private vervolging ingestel is nadat die staat geweier het om te vervolg en die beskuldigde uiteindelik skuldig bevind word.
In Mei 2025 het die Johannesburgse landdroshof volgens AfriForum koste toegeken ná die afhandeling van Alexi Bizos se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding aan aanranding met die opset om ernstig te beseer.
In Maart 2025 het die Mamelodi-landdroshof die NVG volgens AfriForum ook gelas om die koste van die private vervolging van Irvin Thabo Ngobeni te dek. Ngobeni is skuldig bevind aan die aanranding van sy buurvrou, Nthabiseng Sebothoma.
Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die jongste bevel wys volgens die organisasie op die rol wat private vervolging kan speel wanneer die staat nie ’n saak vervolg nie.
“Privaatvervolgings is duur en buite die bereik van die meeste misdaadslagoffers,” het Bateman gesê.
Hy sê die eenheid se vermoë om sulke sake te voer, word deur AfriForum-lede befonds en dat die organisasie sal voortgaan om sake namens slagoffers te voer.
Die jongste bevel volg nadat die hof nie net Memese se skuldigbevinding en 20-jaar-vonnis gehandhaaf het nie, maar ook gelas het dat die koste van die private vervolging deur die NVG gedra moet word.
