Springbok-afrigter Rassie Erasmus was in ’n omgekrapte bui tydens die perskonferensie ná afloop van die wedstryd nadat Suid-Afrika die All Blacks met 33-26 in die tweede toets van die Greatest Rivalry-reeks in Kaapstad geklop het.
Toe hy gevra is oor die All Blacks-afrigter Dave Rennie se bewerings dat Suid-Afrika onwettig skrum, het Erasmus nie teruggehou met sy antwoord nie.
In die aanloop tot die toets het Rennie gesê Nieu-Seeland het Wêreldrugby genader oor hul kommer oor die wettigheid van die Springbokke se skrumtegnieke.
Maar ’n sigbaar gefrustreerde Erasmus wou niks daarvan weet nie en het teruggekap.
“Dit is die eerste keer ooit in die geskiedenis dat mense praat daarvan dat ons omstap. So hoekom sou ons skielik begin omstap? Die eerste ses skrums waar Nieu-Seeland die ingooi gehad het, het elkeen ineengestort, en dit was oor en oor ’n herset,” het hy aan verslaggewers gesê.
“Hoekom het die skrum dan net op húlle bal elke keer ineengestort? Ek wil nie met daardie nonsens kom en sê ons stap om nie, en dan probeer julle sulke dinge deur die media versprei nie. As ek begin om dinge uitwys, was die laaste lynstaan skeef, en ons het meegeding.”
Dís hoekom Rennie kla
Erasmus het nie net na die eerste wedstryd verlede week op Ellispark, wat die All Blacks gewen het, verwys nie, maar ook na kwessies oor kontak met die kop in Saterdag se wedstryd. Hy het gesê die All Blacks is nou onder druk en dat dit volgens hom die rede is waarom Rennie hierdie kwessies opper.
“As hy [Rennie] oor sulke dinge begin kla, dan is hulle onder druk,” het Erasmus gesê.
“Natuurlik het ons verlede week nie gekla ná daar baie duidelike gevalle van kopkontak was nie.
“En vandag was daar in die eerste 40 minute vier gevalle van kopkontak, en niks is daaraan gedoen nie. En toe kry Lood [de Jager] die eerste een vir Suid-Afrika en hy word geelkaart.”
All Blacks gebruik die media
Erasmus het gewaarsku dat sy opmerkings maklik tot opspraakwekkende opskrifte kan lei.
“Die oomblik wanneer ons begin kla, en julle net die deel aan die einde wat ek nou gesê het, gaan uitlig, gaan dit ’n helse opskrif wees, maar moet asseblief nie.”

Erasmus het gevoel dat die All Blacks die media deur die toer gebruik het om sekere kwessies uit te lig, onder meer bewerings dat Suid-Afrika die spel voor die eerste toets stadiger gemaak het, terwyl Nieu-Seeland ’n vinniger speltempo verkies.
“Moenie probeer om mense deur die media te oortuig nie, want dit is wat in die eerste week gebeur het. Hulle het probeer om mense deur die media te oortuig dat ons die spel vertraag, en ons doen nie,” het hy gesê.
“As die skeidsregters daardeur beïnvloed word, is daar duidelik ’n plan om daardie boodskap uit te stuur. En dan gaan ons nie stilbly en net sê: ‘Ag, julle is reg, ons stap om’ nie. Ons stap f*kken nie om nie.
“Ons skrum vorentoe. Ons is nog nooit, ooit, ooit daarvan beskuldig dat ons omstap nie. Ek verstaan dit dus nie.”
Erasmus se uitdagende houding, tesame met Rennie se voortdurende bevraagtekening van sekere aspekte van die Springbokke se spel, sal beslis ’n fokuspunt wees in die aanloop tot die derde toets by die FNB-stadion Saterdag, met die reeks gelykop op 1-1.
Dit voeg net nog meer byt by tot wat dusver ’n fassinerende reeks was.
