Musiek wat deur kunsmatige intelligensie (KI) vervaardig word, het die afgelope maande al hoe gewilder geword, met KI-kunstenaars soos JakkalsVibes wat selfs in Mei by Loftus opgetree het – al het hy moontlik net ’n “play”-knoppie gedruk. Dit het kommer laat onstaan oor of KI die werk van werklike kunstenaars gaan afvat.
KI-musiek sal egter nooit kan kers vashou by die ware Jakob nie. KI se musiek sal nooit die egtheid van mense se trane, vreugde en liefde kan vasvang nie.
Musiek was van die begin van tyd af menslik.
In die Bybelse tyd was musiek ’n manier vir Christene om te aanbid, te pleit of dankie te sê. Vandag nog gebruik ons musiek op dié manier. As mense is ons nie perfek nie. Musiek is en was nog nooit veronderstel om perfek te wees nie.
Musiek is deur talentvolle, hardwerkende mense gemaak – nie net sangers nie, maar ook skrywers, vervaardigers en agente wat deel is van die musiekmaakproses.
Musiek is ’n kuns. Nes kunswerke, is dit die “foute” wat dit mooi en uniek maak. Musiek is ’n manier om menslike gevoelens met die wêreld te deel. Dit is juis hierdie “foute” – amper soos vingerafdrukke – wat mense roer en inspireer. Die klein kraak in iemand se stem, soos wanneer emosie ’n knop in die kunstenaar se keel veroorsaak, is ’n goeie voorbeeld hiervan.
KI sal nooit die hoendervel-gevoel wat in regstreekse opnames van gospelmusiek vasgevang word, kan gee nie. KI sal nooit die menslike gevoel van ontsettende liefde in ’n nuwe verhouding, of die verraad van ’n hart wat gebreek is, kan vasvang nie.
Musiek wat deur KI geskep word, klink boonop baie generies. KI vat die woorde en klanke van bestaande musiek en meng dit totdat dit vind waarvoor die kunstenaar gevra het – anders as mensgemaakte musiek, wat harde werk, deursettingsvermoë en soms baie geduld vereis.
Dit laat ook vrae oor etiese kwessies soos kopiereg ontstaan.
KI sal slegs verkoop en oorneem as mense nie meer hoëgehalte artistieke musiek aan hul gehore voorlê nie.
Dit verras my hoe ouer generasies nie dadelik kan uitken of musiek deur KI geskep is of nie. Ek en my sussie het ’n paar weke gelede Mikhail Bennett gehoor wat op my pa se radiostasie gespeel is. My ouers het dadelik van die liedjie se wysie en woorde gehou, maar het nie besef dit is KI nie.
Ek en my sussie het na mekaar gekyk en uitgebars van die lag. Ons het verduidelik dit was so duidelik soos daglig KI-musiek, en ons het ons koppe geskud oor hoe oortuig hulle was dat dit ’n regte kunstenaar is.
KI-musiek het ’n neiging om soos gemengde stemme te klink. Jy kan nie eintlik plaas hoe die “sanger” klink nie. Die woorde is meestal generies en oppervlakkig. Hulle was eers oortuig nadat Meneer Google gewys het die liedjie is inderdaad deur KI gemaak, en het maar agter hul hande gemompel dat ek en my sussie reg was.
Eerder as om menslike kunstenaars se werk te vervang, dink ek KI-musiek sal bloot ’n nuwe genre van musiek word – net soos pop, rock en kletsrym.
Só ’n genre laat nou nie juis my hart warm klop nie, maar dit is nie my plek om dié te oordeel wat wel daarvan hou nie. Ons leef in ’n vinnig veranderende wêreld, veral weens nuwe tegnologiese ontwikkeling, en dit is noodwendig nodig dat ons aanpas. Maar dit beteken nie ons moet dit wat musiek eg maak, prysgee nie.
- Van Loggerenberg is ’n student van Pretoria.
