60 Moorde per dag: SA se bloedspore

Foto ter illustrasie. Foto: Argief.
Foto ter illustrasie: Argief.

Suid-Afrika se misdaadprentjie word dalk op papier effens beter, maar vir duisende families wat die afgelope drie maande ’n geliefde aan geweld afgestaan het, beteken ’n daling van 3,5% bitter min.

Die jongste misdaadstatistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), wat Vrydag, 20 November, bekend gemaak is, toon dat 5 590 mense tussen Julie en September vanjaar vermoor is. Dit is gemiddeld ongeveer 60 mense elke dag, of meer as twee mense elke uur.

Hoewel dit 204 minder moorde as gedurende dieselfde tydperk verlede jaar is, het die land steeds met ’n skrikwekkende vlak van geweld te kampe. Gauteng het met 1 418 moorde die meeste aangeteken, terwyl die Oos-Kaap volgens die SAPD se risikobepaling die gevaarlikste provinsie is om vermoor te word.

Maar dit is nie net die aantal moorde wat kommer wek nie. Dit is wat die statistiek nié behoorlik verklaar nie.

Ian Cameron, DA-LP en voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie, het ernstige oor die klassifikasie van moorde geopper. Van die 5 396 moorde wat vir oorsaaklike faktore ontleed is, kon slegs 2 457 aan die aangegewe kategorieë gekoppel word. Die oorblywende 2 939 word nie deur dié kategorieë verklaar nie.

Slegs 261 moorde is amptelik as bendeverwant geklassifiseer, waarvan 208 in die Wes-Kaap plaasgevind het. Dit terwyl gemeenskappe in bendegeteisterde gebiede steeds onder ’n meedoënlose vlaag skietvoorvalle gebuk gaan.

Die probleem strek verder as bendegeweld. Die statistieke toon ook ’n verskil tussen die nasionale moordtotaal van 5 590 en die 5 549 slagoffers in die ouderdoms- en geslagsontleding.

Intussen bly die syfers oor vroue en kinders verwoestend.

Ian Cameron, die DA-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie.

Altesaam 9 908 verkragtingsake is aangemeld. Van die 9 705 slagoffers wie se ouderdom en geslag geverifieer kon word, was 4 362 kinders jonger as 18. Dit beteken gemiddeld sowat 47 kinders per dag, oftewel een elke halfuur.

Daarby is 581 volwasse vroue en 149 kinders vermoor. Die SAPD se afsonderlike syfers oor huishoudelike geweldverwante moorde identifiseer 159 vroue en tien kinders. Dié kategorie moet nie met die totale aantal vermoorde vroue en kinders verwar word nie.

Nog ’n ontstellende ontwikkeling is die omvang van vroue se verdwyningsake. Volgens ’n parlementêre antwoord wat vandeesweek bekend gemaak is, is 1 984 sake oor vroue wat gedurende die 2025/26-boekjaar en tussen April en September 2026 as vermis aangemeld is, geregistreer. Van dié sake was 936 steeds onopgelos.

Die vraag oor aanspreeklikheid word al hoe dringender.

Cameron het ook kommer uitgespreek oor Operation Prosper. Volgens ’n skriftelike parlementêre antwoord hou die Departement van Justisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en NATJOINTS nie rekords waarmee bepaalde hof- en vervolgingsake betroubaar aan dié operasie gekoppel kan word nie. Dit beteken nie dat geen vervolgings of skuldigbevindings plaasgevind het nie, maar wel dat die staat nie die uitkomste behoorlik daaraan kan toeskryf nie.

Daar is wel positiewe syfers: motorkapings het met 16,8% gedaal, vragmotorkapings met 27,9% en ernstige roof met 10,2%. Tog is 2 552 moorde met vuurwapens gepleeg.

Prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, het ook onthul dat 8 201 kontakmisdade met alkohol verband gehou het, waaronder 271 moorde. Hy het gewaarsku dat polisiëring alleen nie die land se geweldskrisis kan oplos nie.

Firoz Cachalia, wat in Mchunu se plek as minister waar-neem.

Daar is egter ’n verdere teenstrydigheid wat verduideliking verg: Cachalia het tydens sy toespraak na meer as 1 600 minder moorde verwys, terwyl die gepubliseerde kwartaalvergelyking ’n daling van 204 toon. Die verskil behoort dringend deur die ministerie verduidelik te word.

•Kry die volledige statistieke hier.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos