Renier van Rooyen en Claudius Peterson
Renier van Rooyen en Claudius Peterson kort na hul skuldigbevinding in die hooggeregshof in Kimberley. Foto: Charné Kemp

KIMBERLEY – Op die vooraand van hul vonnisoplegging vir bedrog in die hooggeregshof in Kimberley het die twee direkteure van Defensor Electronic Security Systems op Maandag 17 November vir uitstel gevra omdat hul maatskappy onder sakeredding is en daar ‘n likwidasie-aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein is.

Renier van Rooyen en Claudius Peterson se aansoek is geweier en die twee direkteure is Dinsdag gevonnis, wat effektiewelik drie jaar gevangenisstraf vir hulle beteken.

Van Rooyen en Petersen is tot ses jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is, en hul maatskappy is ‘n boete van R1,5 miljoen opgelê. Hul dadelike aansoek om verlof tot appèl is geweier.

Renier van Rooyen tydens 'n vorige verskyning.
Renier van Rooyen tydens ‘n vorige hofverskyning. Langs hom is Claudius Peterson. FOTO: Charné Kemp

Hul aansoek om borgtog ná vonnisoplegging het geslaag – hangende hul aansoek om verlof tot appèl na die Appèlhof in Bloemfontein.

Dit het ook bekend geword dat hul vorige prokureur homself onttrek het en hul maatskappy sonder regsverteenwoordiging gelaat is, al het albei ‘n nuwe prokureur aangestel.

Wederregtelik ander maatskappy se registrasienommer gebruik

Waarnemende regter Omphemetse Chwaro het gesê die maatskappy is reeds skuldig bevind, en kan gevonnis word. Artikel 133(1) van die Suid-Afrikaanse Maatskappywet 71 van 2008 plaas ‘n algemene moratorium op regsgedinge en afdwingings-aksies teen ‘n maatskappy of sy eiendom tydens besigheidsreddingsprosedures, om ruimte vir herstrukturering te bied. Daar is ‘n statutêre uitsondering wat toelaat dat strafregtelike verrigtinge teen die maatskappy of sy direkteure/beamptes voortduur, het die regter gesê.

LEES OOK: ‘Twyfelagtige kontrakte’ van R384m: Aangeklaagdes roep sleutelgetuie terug

In die verhoor het die staat aangevoer die beskuldigdes het in die tydperk tussen 13 Maart 2014 en 20 Oktober 2017 geheul en wanvoorstellings in tenderdokumente gemaak om die Noord-Kaapse departement van gesondheid te bedrieg.

Regter Chwaro het bevind Van Rooyen en Peterson het wederregtelik hul ander maatskappy, Defensor Security, se registrasienommer van die Reguleringsowerheid vir die Privaatveiligheidsbedryf (Prisa) as deel van hul boddokumente ingedien. Die betrokke entiteit wat die bod ingedien het, was dus nie geregistreer nie; dit is eers twee maande later gedoen. Hulle het op onregmatige wyse nie die departement van dié belangrike afwyking van die vereistes ingelig nie.

Daarmee het hulle ook artikels van die Wet op die Regulering van die Private Sekuriteitsbedryf oortree.

Die staat kon nie bewys dat Defensor ingevolge die bodprosesse wat gevolg is, uiteindelik nie gekwalifiseer het nie.

Regter Chwaro het ook met die skuldigbevinding ‘n bevel aan die Nasionale Beslagleggingseenheid toegestaan om ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad ‘n kommissie van ondersoek te hou oor hoe die veroordeeldes wederregtelik sou baat by die kontrak.

Adv. Isaac Mphela kla aan. Adv. Edeling SC word deur adv. Kristle Peterson namens al die beskuldigdes bygestaan.

LEES OOK: Drakenstein nou in regstryd oor krisis op Wellingtonse plaas

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article