Die aangeklaagdes tydens 'n vorige hofverskyning.
Steven Jonkers tydens ‘n vorige hofverskyning. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Die Defensor-sekuriteitsmaatskappy en sy twee direkteure wat twyfelagtige kontrakte van R384 miljoen by die Noord-Kaapse departement van gesondheid ontken, het op Maandag 30 Junie in die hooggeregshof in Kimberley sy stryd voortgesit en ‘n sleutelgetuie in die bedrogsaak teruggeroep.

Die staat het reeds sy saak gesluit in die verhoor van Steven Jonkers (55), eertydse departementshoof van gesondheid en deesdae adjunk-direkteur-generaal in die kantoor van die Noord-Kaapse premier; Defensor Electronic Security Systems, asook sy direkteure, Renier van Rooyen (62) en Claudius Gerald Peterson (57).

Drie beskuldigdes van Defensor-hofsaak
In die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Kimberley is van links Renier van Rooyen (62), Claudius Peterson (57) en Steven Jonkers (55). Foto: Charné Kemp

Defensor se vroeëre aansoeke om ontslag en dat die regter homself moet verskoon, het misluk. Die aangeklaagdes word van tenderbedrog vir ‘n sekuriteitskontrak verdink.

Die staat voer aan die beskuldigdes het van 13 Maart 2014 tot 20 Oktober 2017 geheul en ‘n wanvoorstelling in tenderdokumente gemaak om die departement te bedrieg.

Aangeklaagdes roep forensiese ouditeur terug

Maandag is Trevor White, ‘n forensiese ouditeur van PWC, teruggeroep om sy getuienis voor die hof te herhaal.

Defensor betwyfel die oorspronklikheid van die tenderdokumente voor die hof, waarvan sommige kopieë is. Hulle meen die staat kon die sleutelaspekte van die aanklagte van bedrog nie bewys nie, en het White hieroor aangevat.

By tye het die temperatuur in die hof gestyg soos adv. Willem Edeling SC namens Defensor indringende vrae aan White gestel het. Regter Omphemetse Chwaro het by tye ingegryp en Edeling aangesê om minder “ywerig” te wees en die getuie kans te gee om te antwoord.

White het voet by stuk gehou dat Defensor deel was van die vermeende bedrogspul. Die direkteure het “gedink hulle gaan daarmee wegkom” het White gesê. Volgens White het sy deskundige kollegas die polisie bygestaan om verklarings van getuies te neem, maar die polisielede het die verklarings beëdig. Die getuies het nie hul weergawes verander nie, ook in hul hofgetuies, aldus White.

Een aspek van die aanklagtes is dat die staat meen Defensor se belastingklaringsertifikaat, wat ‘n vereiste is vir ‘n suksesvolle bod, is oneg. Een werknemer van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het getuig die dokument wat aan hom in die hof getoon is, mag moontlik geldig wees.

White meen dat ‘n soektog in die SAID se rekenaarstelsel bewys het dit is nooit uitgereik nie. Geen beweerde rekenaarprobleme is ooit bewys nie.

Voorts is die registrasiesertifikaat deur die Reguleerder vir die Private Veiligheidsbedryf (Prisa) aan ‘n Defensor-entiteit uitgereik wat nie aansoek gedoen het vir die tender nie. Volgens White moet die entiteit of betrokke maatskappy wat aansoek doen sy eie Prisa-sertikaat hê. Volgens Edeling het die betrokke Prisa-amptenaar dit goedgekeur dat een entiteit onder ‘n ander se naam mag handel dryf, en ‘n geldige sertifikaat is uitgereik.

Nog ‘n kwessie wat onder die loep geneem is, is dat die maatskappy wat ‘n tender aansoek indien, ‘n volledige stel finansiële state van drie jaar moet verskaf. In dié geval het die Defensor-entiteit in een finansiële jaar slegs twee dae handel gedryf. Volgens White is die tender-vereiste duidelik dat ‘n suksesvolle bod net toegestaan kan word aan ‘n volledige stel van drie finansiële jaar se geouditeerde finansiële state, en nie twee jaar en twee dae nie.

Van Rooyen en Peterson word ook daarvan verdink dat hulle voorgegee het dat hulle nie enige belange in verwante maatskappye het nie.

Departement, personeel ‘mislei’

Jonkers het as rekenpligtige beampte na bewering die departement en personeel mislei dat hy tevrede was dat verkrygingsvereistes nagekom is. Die vereistes van die Wet op Openbare Finansies is na bewering op opsetlike, onwettige en roekelose wyse geïgnoreer, luidens die akte van beskuldiging. As rekenpligtige beampte moet Jonkers ‘n regverdige, deursigtige, mededingende en koste-effektiewe aankoopproses volg en onreëlmatige en vermorste uitgawes voorkom.

Jonkers het glo die oorspronklike bod van R224 miljoen goedgekeur asook ‘n verdere aanpassing van R160 miljoen toe die kontrak onderteken is.

Adv. Isaac Mphela kla aan. Adv. Edeling SC word deur adv. Kristle Peterson namens al die beskuldigdes bygestaan.

Die verhoor het Woensdag voortgeduur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025