KIMBERLEY – Steven Jonkers (55) het Woensdag 9 Julie in die hooggeregshof in Kimberley getuig hoe trollies vol tenderdokumente in die departement van gesondheid se gange gestaan het toe hy in 2017 as hoof oorgeneem het. Jonkers is eertydse departementshoof van die departement van gesondheid en deesdae adjunk-direkteur-generaal in die kantoor van die Noord-Kaapse premier.
Jonkers word saam met Renier van Rooyen (62) en dié se vennoot, Claudius Gerald Peterson (57), en hul maatskappy Defensor Electronic Security Systems van onder meer bedrog aangekla.
Die saak behels beweerde bedrog met kontrakte van R384 miljoen by die Noord-Kaapse departement van gesondheid. Die aangeklaagdes word van tenderbedrog vir ʼn sekuriteitskontrak verdink. Die staat voer aan die beskuldigdes het vanaf 13 Maart 2014 tot 20 Oktober 2017 geheul en ʼn wanvoorstelling in tenderdokumente gemaak om die departement te bedrieg.

In sy hoofgetuienis op Woensdag het Jonkers verduidelik dat die oorspronklike tender in 2014 adverteer is, maar dis nooit toegeken nie. In 2017 het Defensor die departement hof toe gesleep omdat dit nie toegeken is nie. Die hof het beslis dat die tender aan iemand toegeken moet word.
Toe Jonkers oorneem het hy met ʼn dilemma gesit. Hy het net een maand ingevolge die hofbevel gehad om die bod toe te ken. Hy was ontevrede dat die oorspronklike dokumente nie te vinde was nie.
Jonkers onthou hoe die bodbundels van 37 aansoekers in “Checkers-trollies in die gange” gestaan het. Dit blyk dat Defensor se oorspronklike dokumente tussen die regsafdeling en ʼn buiteprokureur verlore gegaan het.
Die bodevaluasie- en bodtoekenningskomitees het op afskrifte van die oorspronklike dokumente gewerk.
Jonkers ontken dat hy as rekenpligtige beampte nie deursigtig en verantwoordelik opgetree het nie. Hy het gedurig met die verkrygingsafdeling geskakel om die teenstrydighede in die dokumente op te klaar en die bod te herevalueer. Defensor se bod was nooit soos die ander afgewys nie. Die tydperk van geldigheid is verleng nadat ʼn besoek aan Defensor gedoen is om te bepaal dat hulle wel die dienste kan lewer.
‘Loer nie oor onderdane se skouers nie’
Hy is nie iemand wat heeltyd oor sy onderdane se skouers loer nie, want hy vertrou hulle. Die lede van die pre-evalueringskomitee is ook hoogs bekwaam en hulle sou gesien het as daar iets by Defensor se belastingklaringsertikaat of ander dokumente skort.
Volgens Jonkers was dit nie onwettig om die oorspronklike bodprys van R224 miljoen in 2014 na R384 miljoen in 2017 aan te pas nie, want “pryse en inflasie het intussen gestyg”.
Hy kon ingevolge sy magte verder met die diensverskaffer onderhandel nadat die diensleweringkontrak onderteken is sonder om magtiging van die Tesourie te verkry. Jonkers reken hulle het eintlik “geld gespaar” om Defensor aan te stel. Hul pryse was, soos die ouditeur-generaal bevind het, nie oormatig nie. Hy het erken amptenare het nie ʼn studie oor markverwante pryse gedoen nie.
Adv. Isaac Mphela, aanklaer het in sy kruisondervraging aangevoer dit is hoogs onreëlmatig om ʼn verdere R160 miljoen aan Defensor toe te ken. Volgens Mphela is dit baie onregverdig jeens die ander bieërs wat dalk uitgeskakel is omdat hul pryse hoër as Defensor se oorspronklike R224 miljoen was.
Jonkers voer aan ingevolge die hofbevel moes hy Defensor se bod evalueer en toestaan. Die verskillende bodkomitees se aanbevelings was dat dit onhaalbaar was om die bod te kanselleer en ʼn nuwe te adverteer. Die behoefte aan sekuriteitsdienste by hospitale en klinieke was ook dringend.
Adv. Edeling SC word deur adv. Kristle Peterson namens al die beskuldigdes bygestaan.
Agtergrond
Jonkers het luidens die akte van beskuldiging as rekenpligtige beampte na bewering die departement en personeel mislei dat hy tevrede was dat verkrygingsvereistes nagekom is. Die vereistes van die Wet op Openbare Finansies is na bewering op opsetlike, onwettige en roekelose wyse geïgnoreer. As rekenpligtige beampte moes Jonkers ‘n regverdige, deursigtige, mededingende en koste-effektiewe aankoopproses volg en onreëlmatige en vermorste uitgawes voorkom. Jonkers het glo die oorspronklike bod van R224 miljoen goedgekeur, asook ʼn verdere aanpassing van R160 miljoen toe die kontrak onderteken is.




You must be logged in to post a comment.