Die Suidooster-ster Dean Smith, ‘n boorling van Malmesbury, was onlangs een van ses bekendes wat hul algemene kennis op die spel geplaas het deur aan die gewilde speletjiesprogram Wie word ‘n miljoenêr? op kykNET deel te neem in die hoop om geld vir liefdadigheid in te samel.
Smith het groot kykersgenot aangewakker toe hy en sy spanmaat, Tracey-Lee Olivier van Diepe Waters-faam, wat later by hom aangesluit het, die vrae met groot plesier beantwoord het. Hy het die uitdaging met erns aangepak en op ‘n doelwit gefokus.
“Vir my is dit net ‘n ding; ek moet net by [vraag] nege uitkom. Dan weet ek dis my base,” het hy gesê. Die beslissende vraag of daar arseen of sianied in appelsade voorkom, was die einde van sy speelbeurt nadat hulle die vraag met ‘n hulplyn verkeerd beantwoord het. Nietemin is ‘n ongelooflike R10 000 ten bate van Goue Aar- tehuis vir bejaardes in Malmesbury losgeslaan.
Volgens Smith was hy baie opgewonde om deur die program genader te word. Hy is self ‘n groot aanhanger van Wie word ‘n miljoener en was bly vir die geleentheid om terug te gee aan die gemeenskap.
Smith het kort voor sy deelname aan die program by Goue Aar na die opknappingswerk gaan kyk wat die tehuis oor die afgelope jaar daar gedoen het en hulle ingelig dat hy geld vir hulle gaan probeer insamel, het George Holtzhausen, die voormalige waarnemende bestuurder by die tehuis, gesê.
Smith meen Goue Aar lê baie na aan sy hart en het hy al gereeld gaan kuier.
“Die mense wat daar werk doen hul beste om die mense daar gemaklik te maak en ek het geweet hulle sal enige donasie waardeer en gebruik,” voeg hy by. Paul Stoltz, die nuwe bestuurder by die tehuis, het hul dank en waardering namens die bestuur, die personeel en inwoners teenoor Smith en die “ongelooflike ruim skenking” van R10 000 ná sy deelname uitgespreek.
“Ons is diep vereer dat hy Goue Aar as sy gekose welynsorganisasie aangewys het. Sy ondersteuning beteken vir ons meer as wat woorde kan sê.”
Volgens Stoltz is dit werklik inspirerend om te sien hoe iemand sy oomblik in die kollig gebruik om iets terug te gee aan ‘n saak wat ‘n werklike verskil in mense se lewe maak.
“Jou vriendelikheid en oorweging het ons almal diep geraak. Baie dankie vir jou bydrae en dat jy die werk wat ons doen, raakgesien het,” het hy bygevoeg.
“Smith se vrygewigheid gaan direk bydra tot die sorg en welstand van ons inwoners.”
Tussen speletjiesprogramme vir welsyn en sy vertolking as Wade Daniels in Suidooster, is hy tans druk besig met teaterwerk.
“Teater maak my hart baie bly,” sê Smith opgewonde wat eersdaags op die planke by die Kalfiefees te sien sal wees.
Daarna vat hy die pad na Noordwes vir die Die Aardklop-kunstefees, gevolg deur die Woordfees in Stellenbosch.
“Al die teaterwerk hou my lekker besig,” voeg hy.






