Kabelo Olifant (23), die singende petroljoggie.

BLOEMFONTEIN – Die singende petroljoggie van Bloemfontein het pas ‘n tweede prys nasionaal gekry in die Motor Industry Staff Association (Misa) se MISA’s Got Talent-kompetisie.

Kabello Olifant (23) glimlag breed en wys graag sy talent aan klante wat by Shell Unitas Motors in Universitas, Bloemfontein, kom brandstof ingooi. Hy werk die afgelope twee jaar hier as petroljoggie en droom oor sy groot deurbraak om internasionaal op te tree.

MISA se uitvoerende hoof Martlé Keyter sê hulle het MISA se 75 000 lede genooi om hul talente met ander te deel.

“Ons was verstom om te sien hoeveel inskrywings ons uit verskillende sektore van die motorbedryf ontvang het,” sê Keyter.

Kabelo Olifant vermaak sy klante met kletsrym. VIDEO: Lientjie Mentz

Olifant het in gr. 8 sy liefde vir kletsrym ontdek toe hy aan ‘n Hip-Hop-kompetisie deelgeneem het. Dié oudleerder van die Dr. Böhmer-vaardigheidskool in die stad sê dié kompetisie destyds was die begin van jare waarin hy sy stokperdjie as kletsrymer beoefen het. Op skool het hy graag aan revue deelgeneem.

Hy het al ‘n hele paar liedjies opgeneem wat hy op die Sound Cloud geplaas. Sy verhoognaam is NBA Junior Kantrâll.

In MISA’s Got Talent het hy vir sy tweede plek ‘n kontantprys van R500 gewen en sê daar is nog ‘n paar gelukspryse. “Ons het almal talente en ek glo ons moet dit gebruik,” sê hy.

Olifant het al op die oopverhoog by Macufe opgetree en hoop om eendag genooi te word om by groot kunstefeeste soos Macufe en die Lemo Fest op die verhoog te verskyn.

Dit is kletsrymers soos 25K en Stinno le Twenty wat hom inspireer.

“Die mense hou baie daarvan as ek vir hulle sing,” sê hy oor sy kollegas en klante. “Ons hou almal daarvan om na musiek te luister. Om te rap maak my gelukkig,” sê dié jongman met ‘n groot glimlag.

Dan maak hy sommer op die plek ‘n liedjie net vir jou op.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article